Die prototipe is onlangs op ’n buitelugskou in Le Bourget, Frankryk, ten toon gestel en spog met katoeters wat kampeerders se tone sal laat omkrul van lekkerkry.

Die Peugeot Boxer 4x4 is gegrond op die Fiat Ducato 4x4 wat in Europa verkoop word en in Amerika herdoop is tot die Ram Promaster. Die deeltydse viertrekstelsel bevoordeel die agteras in tweewielaandrywing, maar met die draai van ’n knop op die instrumentepaneel word ewe veel krag na albei asse gestuur.

Die enjin is Peugeot se eie BlueHDi 165 wat 370 Nm wringkrag genereer en gekoppel is aan ’n 6 spoed-handratkas. Binnelangs is daar ’n leefruimte van 10 m2 en die werkoppervlakke is gemaak van saamgeperste aragoniet, ’n soort kalsiumkristal wat so hard soos klip en so glad soos keramiek is.

Al die plastiekpanele, ook die vloer, is ’n mengsel van herwonne brandstoftenks (85%), melkbottels (10%) en wit plastiek (5%) van onder meer sjampoebottels.

Die Boxer 4x4 is tans ’n prototipe, maar Peugeot beloof om dit te bou mits sy telefoon van die mikkie af lui en sy e-posboks oorloop met versoeke.

Die Peugeot Boxer 4x4
Die Peugeot Boxer 4x4
Die Peugeot Boxer 4x4
Die Peugeot Boxer 4x4