illustrasies Cyril Klopper

Ons hoor gereeld van Suid-Afrikaners wat in buurlande soos Mosambiek beboet word omdat hulle nie die regte plakkers op hulle sleepwa vertoon nie óf omdat die plakkers op die verkeerde plek geplak is.

Wanneer jy ’n stel plakkers koop, is daar geen aanwysings wat vir jou sê waar die plakkers moet kom nie. En as jy die voertuie by ’n grenspos bekyk, kom jy gou agter min mense weet waar watter plakker geplak moet word.

Ons het ’n AA-reiswinkel in Kaapstad genader en ook die Nasionale Motorvoertuigregulasies (MVR) noukeurig deurgelees – en veral gefokus op Padverkeerswet 29 van 1989 en 93 van 1996 wat wetgewing rakende sleepwaens uiteensit. Kom ons kyk wat plak jy waar.

ZA-plakkers

Suid-Afrikaanse voertuie wat die grens oorsteek – na enige buurland toe – móét ’n ZA-plakker vertoon.

Volgens die AA moet die plakker agterop jou voertuig aangebring word, langs die nommerplaat. Suid-Afrika se voertuigregulasies sê egter jy mag geen plakker binne 150 mm van die nommerplaat af plak nie. Daar is geen vaste reël of die ZA-plakker agterop jou voertuig links of regs of bo of onder geplak moet word nie, maar volgens Mosambiek se toerismewebblad moet dit aan die regterkant van jou voertuig – die bestuurderskant – geplak word.

Volgens regulasie 202 van Padverkeerswet 93 mag ’n plakker op jou voertuig se agterruit nie meer as een sestiende van jou sig na agter belemmer nie. Presies hoe hulle op hierdie breukdeel besluit het, weet nugter, maar dit beteken 93,75% van jou agterruit moet plakkerloos wees.

Een ZA-plakker sal seker nie die wet breek nie, maar as daar reeds ’n stokmannetjiegesin op jou sportnutsvoertuig se agterruit geplak is, sal jy die ZA-plakker eerder op die bakwerk moet plak.

Driehoekplakkers

Mosambiek se verkeersreëls vereis dat alle sleepkombinasies waarskuwingstekens vertoon, ongeag of jy ’n Mosambiekse burger of ’n toeris is.

Die sogenaamde driehoekplakkers wys ’n geel driehoek op ’n blou agtergrond. Dié plakker moet vierkantig wees, daar mag geen ander grafika behalwe die driehoek op die plakker wees nie, en dit word in ’n stel van twee verkoop – met een plakker dikwels effens groter as die ander.

Die kleiner driehoekplakker moet op die voorbuffer aan die bestuurderskant van jou sleepvoertuig geplak word, terwyl die groter een op jou sleep- of woonwa se agterkant, óók aan die bestuurderskant, kom.

As jy dus van agter af na jou wa kyk, moet die plakker regs wees, en as jy voor jou trokkie staan, moet die plakker aan die linkerkant wees. 

Ander plakkers

Volgens Padverkeerswet 93 van 1996 mag die uitsig deur jou voorruit glad nie versper word nie, met die uitsondering van die truspieël en lisensieskyf.

’n Lisensieskyf moet wel links (dus aan die passasierskant) van jou trokkie se voorruit geplak word – en so laag as moontlik sodat dit nie jou sig op die pad sal belemmer nie.

Dieselfde wetgewing maak dit onwettig om ’n GPS met ’n suier aan die voorruit vas te sit. As jy wel ’n GPS op hierdie manier gebruik, moet jy aan ’n verkeersbeamte kan bewys dit belemmer nié jou sig nie. En fluffy dice wat aan ’n truspieël hang, is uit!

Buiten die glimstroke en weerkaatsers moet daar ook ’n waarskuwingsteken wees.

Wat vakansieplakkers betref – die soort wat jy by ’n oordwinkel of parkkantoor koop as aandenking – geld dieselfde wet wat plakkers op die voorruit verbied en slegs een sestiende plakplek op die agterruit toelaat. Jy mag hierdie plakkers wel op die bakwerk plak mits dit nie nader as 150 mm aan ’n nommerplaat kom nie.

T-plakkers

Ook in Zimbabwe en Zambië moet alle sleepkombinasies waarskuwingstekens hê, maar hulle vereis ’n ander stel plakkers as Mosambiek s’n.

Die sogenaamde T-plakkers bestaan uit twee plakkers elk met die letter T wat op ’n swart agtergrond gedruk is. Die plakkers is meer reghoekig as vierkantig en een van die T’s is rooi en die ander wit.

Die rooi T-plakker kom agterop jou sleepwa en die bewoording van Zimbabwe se verkeersreëls lui die plakker moet “so ver as moontlik regs” geplak word (dus aan die bestuurderskant).

As jy Zimbabwiese (of Zambiese) én Mosambiekse waarskuwingstekens gebruik, moet Zimbabwe se T-plakker héél regs wees met Mosambiek se driehoekplakker daarnaas.

Die wit T-plakker kom aan die voorkant van jou sleepwa en nié op jou sleepvoertuig nie – ook aan die bestuurderskant. As jy dus van agter af na jou wa kyk, moet die rooi T-plakker regs wees, met die wit een wat links moet wees as jy voor die wa staan.

Glimstroke en weerkaatsers

Suid-Afrikaanse wetgewing vereis dat ’n geel glimstrook aan albei sye én die agterkant van jou wa geplak word. Die glimstrook moet oor minstens 80% van die wa se lengte en 80% van die breedte loop.

Daar hoef geen glimstrook aan die voorkant van die wa te wees nie. Die voorkant van jou wa moet wel twee wit weerkaatsers hê – een aan elke kant, so na as moontlik aan die hoeke.

Indien jou sleepkombinasie langer as 7 m is, moet daar twee of meer geel weerkaatsers aan die kante van die wa geplak word. Hulle mag nie verder as 3,6 m uitmekaar wees nie, en die voorste een moet binne 3 m van die sleephaak geplak word en die agterste een binne 1 m van die wa se agterkant.

Die agterkant van jou wa moet twee rooi weerkaatsers op die verste hoeke hê – gewoonlik op die modderskerms. Alle weerkaatsers moet hoër as 30 cm van die padoppervlak af wees, maar nie hoër as 150 cm nie.

Buiten die glimstroke en weerkaatsers moet daar ook ’n waarskuwingsteken wees – óf ’n geel-en-swart chevronplaat óf twee rooi driehoekige weerkaatsers.

Die waarskuwingsteken mag nie hoër as 1 m van die padoppervlak af wees nie. Sommige Mosambiekse toerismewebwerwe beweer jy moet ’n rooi glimstrook op die agterkant van jou wa plak, maar dit lyk asof die Mosambiekse polisie tevrede is met die rooi driehoeke.

Zimbabwe vereis ook twee rooi glimplakkers op jou sleepvoertuig se agterkant en twee wit glimplakkers voor.

Ovaal plakkers vir Afrika

Die gebruik van ovaalvormige wit plakkers met blokletters om jou voertuig se land van herkoms aan te dui het in 1949 met die Geneefse konvensie begin. Europeërs het besluit elke land moet hom onderskei met ’n landkode langs die voertuignommerplate. Die Europeërs het ’n kode aan elke land op aarde toegeken en almal is aangemoedig om ovaal plakkers op hulle rygoed te plak.

Sommige lande, onder wie Amerika, het hulle min aan Europa se baasspelerigheid gesteur. In Europa is die ovaal plakker mettertyd verruil vir die landkode en die embleem vir die Europese Unie (12 goue sterre op ’n blou vlag) op alle Europese nommerplate.

Hier in Afrika boer ons egter nog aan met die ovaal plakker wat aan ons voorgeskryf is. Terloops, die ZA-kode is toegeken aan die Unie van Zuid-Afrika, vóór ons ’n republiek geword het.

Soos ons reeds genoem het, móét Suid-Afrikaanse voertuie ’n ZA-plakker hê wanneer jy die land verlaat.

Ons buurlande hier in Afrika het uiteraard soortgelyke landkodes en tegnies moet hulle óók hulle eie ovaal plakker vertoon wanneer hulle na Suid-Afrika of ander buurlande reis, maar niemand steur hulle juis hieraan nie.

’n Mens sien gereeld voertuie met Mosambiekse registrasienommers in Nelspruit, maar hoeveel van hulle het MOC-plakkers?

En het jy al ooit ’n LS-plakker op ’n ryding uit Lesotho gesien?

Ons bure se landkodes

Angola: ANG

Botswana: RB

Eswatini: SD

Lesotho: LS

Malawi: MW

Mosambiek: MOC

Namibië: NAM

Zambië: Z

Zimbabwe: ZW