’n Boom vir jou geboortedag

Teen dié tyd het oupa Jan al genoeg sokkies en klein Janneman is een Lego-stel weg van ’n bedorwe brokkie. Die nieregeringsorganisasie GreenPop bied ’n vars oplossing: Pleks van ’n stel sakdoeke of slaailepels kan jy vir ’n geliefde ’n boom borg op hulle spesiale dag.

Daar is tans twee plekke waar jy vir hulle ’n boom (teen R120) kan laat plant: Die Platboswoud-reservaat naby Gansbaai in die Wes-Kaap of Sons of Thunder, ’n gemeenskapsboerdery in Livingstone, Zambië. 

’n Mens kan op Greenpop se webwerf ’n pasgemaakte sertifikaat kies. Die GPS-koördinate van jou geborgde boompie verskyn op die sertifikaat. Laai die sertifikaat af of stuur ’n elektroniese weergawe na jou suster in Dubai.

Borg ’n boom: donation.greenpop.org/trees  

– Kyra Tarr Gaan na greenpop.org vir inligting oor GreenPop se projekte.

Die kaartjie wat ’n tuin word

Foto: Verskaf
Foto: Verskaf

Pleks dat ’n verjaardagkaartjie iewers in ’n skoenboks in ’n kas stof opgaar, kan jy dié ekovriendelike kaartjies in jou voortuin plant.

Growing Paper se “plantbare” kaartjies (vanaf R39 per kaartjie) is gemaak van 100% herwonne papier wat kruie-, groente- of blomsaadjies bevat – van madeliefies en papawers, tot basiliekruid, wortels en tamaties. 

Tydens die nasionale inperking het die groep die Sustainable Seasons-projek geloods. Dis ’n spesiale stel kaartjies (R108 vir ’n pak van vyf) geïllustreer deur Anja Stoeckigt van Paper Tales (papertales.co.za).

’n Deel van die opbrengs word aan die WWF se volhoubare landbou-inisiatief geskenk.

Ek wil ’n kaartjie koop! Besoek die aanlynwinkel by growingpaper.co.za

Volg Growing Paper op Facebook en Instagram by @growingpaperza