Rus en vrede vir almal

Na aanleiding van die brief “En wanneer die bure balke saag?” van Danie Uys in die Maart 2019-uitgawe deel ek graag ’n staaltjie oor snorkery in die kampplek.

Ek en my vrou, Merika, het in 2000 by Dragon Peaks naby Winterton in KwaZulu-Natal gekamp. Ons was toe nog jonggetroudes en het Engelse vriende saamgenooi. Almal van ons was opgewonde oor die kampeerdry en het veral uitgesien na die staproetes in die omgewing. Ons het selfs ons vyfmantent vir hulle geleen sodat hulle die hele kampevaring saam kon geniet.

Dragon Peaks se mense was destyds besig om ’n deel te ontbos, en ’n mens kon van hierdie hout gebruik. Ons het genoeg braaihout saamgeneem, maar hulle stompe sou ook goed werk vir ’n groot kuiervuur. Laat die een aand daag ’n kampeerder op met ’n groot ou blou woonwa wat lyk of hy uit die jare sewentig dateer. Ek sê so ewe vir die nuwe intrekker hier is meer as genoeg hout; hy moet dit net self in kleiner stukke saag as hy wil braai.

Ons is bed toe, en die volgende oggend vra die nuwe kampeerder of ek lekker balke gesaag het. Ek verstaan nie dadelik wat hy bedoel nie en herinner hom dat ek gesê het hier is genoeg hout vir ons albei... Min het ek besef hy verwys na my snorkery. Ons arme vriende moes ook deurloop.

Ek was skoon ontnugter toe ek die volgende oggend sien hulle het hulle tent doer ver van ons gaan opslaan vir die aand. Ek het sleg gevoel, en as soenoffer bied ek ’n driekwartsakkie lemoene aan en sê so ewe: “Please have these lemons!” Om ’n lang storie kort te maak: Ek slaap al die afgelope 18 jaar met ’n lugdrukmasjientjie sodat ek nie snork nie.

Ook in die kampplek.

ALBERT VENTER Bloemfontein

Hou die blink kant bo

Blink bo
Blink bo

In ons warm Suid-Afrikaanse toestande glo ek die meeste woonwa-eienaars het ’n behoefte aan blinkseile om hulle woonwa koel te hou. Ek wonder waarom woonwavervaardigers nie hulle woonwaens se dak blink verf nie.

HESTER VAN EEDEN Bela-Bela

Woonwaens se bakwerk op sigself word goed geïsoleer om die hitte van die son te keer of die koue buite te hou. Omdat die meeste woonwaens se dak wit is, gaan silwer nie ’n noemenswaardige verskil maak nie. Die blinkseil wat jy oor jou tent span, is egter ’n ander saak. Volgens Romeo Pretorius van All Outdoors Gear kan só ’n blinkseil die onderdakse temperatuur met ’n goeie 5-19 ºC verminder.

Hy sê ook ’n mens kán die seil oor jou woonwa span, maar uiteraard is die effek nie so dramaties as oor ’n tent nie. Dit belemmer boonop die lugvloei van die woonwa en kan kondensasie in die wa veroorsaak. ’n Mens moet onthou die son bak nie net van bo af nie, maar kan ook teen die sypanele en deur die ruite skyn wat dit warmer maak binne. Dit maak uiteraard ook saak of jy in direkte son staan of in die koelte van byvoorbeeld ’n boom. – Red. 


’n Yskoue plan

Ek het twee ou kisvrieskasdeure gebruik en in twee kamptafels omskep wat ek teenaan my Jurgens Classique opslaan.

Elkeen van die deure se een kant haak in die aluminiumlysie wat deel vorm van die linkerkantse woonwapaneel en parallel met die grond loop. Ek het deel van ’n gordynreling hiervoor gebruik.

Albei blaaie het verstelbare pote gekry sodat jy dit waterpas kan kry al is die grond langs die Jurgens ongelyk. In een van die blaaie het ek ’n gat gesny sodat ’n los wasbak daarin kan pas, waarna ek die rand met silikoon geseël het.

Die twee tafelblaaie pas netjies onder die Classique se bed in.

ANDRIES VAN TONDER Worcester

KOMMENTAAR VAN DIE mAAND!

Ek doen maar navraag oor mense se ervarings by ’n kampplek. Sommige oorde se foto’s is baie oud of hulle gebruik dit só dat die oord op sy mooiste lyk. Dit skep ’n sekere verwagting, en wanneer dit dan met die aankomslag nie so lyk soos op die foto’s nie, kan dit ’n teleurstelling wees.”

In ’n onlangse rubriek het Neels van Heerden heelwat te sê gehad oor die gradering van kampplekke wat gegrond is op internetkommentaar. Geert de Jong sê hy is lugtig vir hoe kampplekke hulle op die internet bemark