Skets Fred Mouton

Suid-Afrikaners is nou maar eenmaal lief vir hulle potjiekos. Dis deel van ons tradisie, sal hulle jou vertel, en dié manier om gaste om die vuur te onthaal. “Gesellig” en “heerlik” blyk die gonswoorde te wees om potjiekos te beskryf.

Anton Goosen het ’n liedjie daaroor geskryf en beweer selfs koningin Victoria het gesê die lekkerste van alles in Suid-Afrika is die potjiekos.

Wyle ds. Matie Brink, ons eie potjiekoskoning, het verskeie boeke oor die onderwerp geskryf, talle plaaslike TV-reekse met potjiekos as hooftema is al vervaardig, en as jy jou tot Google wend, kry jy in ’n oogwink meer as 35 000 resepte om van te kies. Ja, mense hou van potjiekos.

Ek is nie een van hulle nie. Ek gaan waarskynlik op die stadsplein gestenig word, maar ek is jammer... jy beïndruk my moeilik met ’n potjie. Ek kan net nie so opgewonde raak soos jy oor die bredie wat jy oor die kole gaargemaak het nie.

Ek gaan waarskynlik op die stadsplein gestenig word, maar ek is jammer... jy beïndruk my moeilik met ’n potjie.

Of dit nou ’n hoenderpot is of skaapboud met ’n soetsuursous, beesstert met perskes of ’n seekospotjie met ’n kinkel, ek sien altyd dieselfde ding wanneer jy trots die deksel lig: ’n klomp groente in ’n lang waterige sous met doer ónder êrens ’n hartseer en vaal stukkie vleis of drie.

Daar is natuurlik ook ’n klompie staatmakerpotjiegroente. Wortels is heel boaan die lys, gevolg deur goed soos uie en botterskorsie. En op een of ander manier beland daar altyd ’n klomp vlapampoentjies heelbo. “Peet, hierdie patty pans is verrúklik!”

Die aartappel is natuurlik ook ’n erelid van die potjie. Maar ek gaan nie hier die aartappel slegsê nie, want dit is gewoonlik hý wat my red. As dit nie vir die aartappels was nie, sou ek met ’n hoop rys en ’n klomp saggekookte wortels op my bord gesit het. Op ’n heerlike somersdag langs die swembad.

En soms kry jy dié souserige affêre boonop in ’n papierbord. Smaaklike ete!

DIS OOK DIE die fanfare wat met potjiekos gepaardgaan wat my dwars in die krop steek. Elkeen dink sy potjie is uniek, maar hulle is in der waarheid almal min of meer dieselfde.

Tog is die potjiemakers só geheimsinnig oor hulle resepte... veral wanneer ’n potjie “met ’n kinkel” gemaak word. “Hemel, Carel. Hierdie skenkelpotjie met ’n twist is heerlik. Wat is jou geheim?” Carel skud dan natuurlik net sy kop en sê met ’n trotse glimlag: “My geheim bly my geheim.” Dié Carel darem...

En hoekom moet daar altyd ’n twist wees? Ek is jammer, maar droëperskes of dadels of pruime of brandewyn of brandrissie omskep nie eiehandig jou buitebredie in ’n unieke ete wat sy gelyke op hierdie planeet nie ken nie. Dit beteken bloot daar is nou saam met die beesstert, wortels en uie ook dadels, pruime en brandewyn in jou pot.

Een slag het ek ’n plaaslike kookprogram gesit en kyk waar die een of ander potjiemeester genooi is om vir die aanbieder en ateljeegaste te kook. In ’n stadium vra die aanbieder vir die kok om ’n potjiegeheim met die kykers te deel. “Iets wat altyd ’n suksesvolle potjie sal waarborg,” vertel die kenner, “is om eers jou uie en jou knoffel saam in ’n bietjie olie in die pot te braai.”

Daardie pot was nie naastenby groot genoeg om te sorg dat almal van ons iets van alles kry nie, en ek het een van my broers aangesê om by die pot wag te hou.

Bid jou dit aan. Die groot geheim vir ’n heerlike pot is iets wat al eeue lank reg oor die wêreld as basis vir die meeste geregte gebruik word. Dankie dat jy die sluier vir ons gelig het!

’n Ander ding wat my moermeter vinnig van groen na rooi laat skiet, is wanneer mense ons vir ’n braai nooi, maar wanneer ons daar opdaag, “verras” hulle ons met ’n potjie. Ek is iemand met eenvoudige smaak, en min dinge maak my gelukkiger as ’n tjoppie, ’n stukkie wors, ’n braaibroodjie en ’n skeppie aartappelslaai. En die kans is goed ek is op pad na jou toe met ’n prentjie van presies daardie bord in my kop.

Ek sukkel dus om my teleurstelling weg te steek as ek by jou instap en ek sien ’n pot op die vuur. My vrou weet dit en sy sal my aan die arm vat en iets sê soos: “Ontspan, dalk stoom hulle mossels vir ’n voorgereg.” Sy is gewoonlik verkeerd.

Wanneer ons (aansienlik) later aansit met die kookkos op ons bord, moet sy my gewoonlik ’n keer of wat onder die tafel skop om ook – soos almal anders – ietsie te sê oor hoe lekker ek eet. Ek hou nie daarvan om te jok nie en sal dan iets sê soos: “Ek hou daarvan as die rys so sag dog ferm is.”

MAAR DIE DING wat my die héél meeste van potjiekos pla, is dat niemand óóit ewe tevrede is wanneer ons klaar geëet het nie. Hoe vroeër jy by die potjie is, hoe lekkerder eet jy. Jý kry die vleis en aartappels en basta met die mense wat ná jou skep.

Ons het op ’n keer by my tannie-hulle op die plaas gaan kuier, en die Sondagmiddag het ’n klomp mense van die distrik kom kuier. Dit was my tannie se verjaardag of iets, en daar’s wildspotjie gemaak. (Hy’t ook waarskynlik ’n twist gehad, maar ek kan nie nou onthou presies wat dit was nie.)

Jý kry die vleis en aartappels en basta met die mense wat ná jou skep.

Ek was 13 of 14 jaar oud en my twee kleinboeties was nog op laerskool. Destyds is die kinders nie eerste gehelp nie; die grootmense was voor in die koor toe die potjie uiteindelik gereed was.

Een van die grootmense was ’n ou met die naam Willem. Willem was nie van die gróót grootmense soos my pa-hulle nie. Hy was ’n bietjie jonger en een van my nefie se maters, en ek dink hulle was vroeër jare saam in die weermag. Hy was nietemin ouer as ons; dus was hy voor ons in die ry.

Ek het die pot en die informele ry bekyk en vinnig in my kop sommetjies gemaak: Daardie pot was nie naastenby groot genoeg om te sorg dat almal van ons iets van alles kry nie, en ek het een van my broers aangesê om by die pot wag te hou. Die plan was dat ons sou wag tot die groot grootmense klaar geskep het, en dan voor die soldate, studente en groter kinders inglip in ’n poging om darem ’n stukkie vleis op ons bord te kry.

Nadat al die grootmense ingeskep het, het my broer kom sê ek was verniet bekommerd. Daar is nog baie vleis en ons sal sonder twyfel geholpe raak. Ons kon in vrede tot laaste wag. Maar met een ding het hy nié rekening gehou nie: Willem se eetlus.

Willem het sy bord in lae geskep. Nee, Willem het sy bord geláái. En hy het diep gaan skep, agter die vleis aan, en as daar ’n lastige stuk wortel aan die skeplepel geklou het, het hy dié teen die rand van die pot getik tót dit afval. Sy bord het behoorlik gekreun onder die kos en daar was nie ’n patty pan of ’n krieseltjie wortel in sig nie.

Op daardie bord was nét rys en vleis.

So staan ek en my broers – toe dit uiteindelik ons beurt is – nader en ons kyk verslae na die groentebredie wat in die pot agtergebly het. Nie een van ons was besonder gaande oor groente nie, en daarom het ons maar effentjies geskep. Hierdie ronde het ons verloor.

En terwyl ons met ons karige porsies op ons skoot sit, kom Willem selfvoldaan met sy gelaaide bord verby gestap, kyk ons op en af en vra: “Is julle laaities dan nie honger nie?”

Koningskos? Volksbesit? Tradisie? Gesellig? Heerlik? Nee wat. Danksy Willem en mense soos hy kan jy die potjie maar by my verby laat gaan.