Kamp is iets wat ’n mens met mooiweer vereenselwig, wat verklaar waarom so baie mense vir die Desembervakansie in die pad val.

Maar dié tyd van die jaar is ook wanneer die berugte donderstorms kop uitsteek in die noorde van die land. In die Kaap is dit ’n groot gebeurtenis, want dis iets wat mense baie min sien. Om die Kaapse donderweer met die noorde s’n te vergelyk is soos om ooreenkomste te soek tussen ’n windbuks- en ’n kanonskoot.

In die noorde lyk dit of daai perswit bliksemstraal die hemele bo jou gaan oopskeur... en dan wag jy vir die oordverdowende slag wat volg. En dan weer vir die volgende bliksemstraal.

Ek onthou as kind een aand op Rustenburg toe ek by my kamervenster uitkyk en sien hoe ’n weerligstraal ’n tak van die boom langs my kamer morsaf slaan. Jy skrik jou boeglam en sien telkens weer voor jou geestesoog hoe die vonke spat.

Daar is iets groots aan donderweer, iets wat groter is as ’n mens. Iets waarmee jy nie skoorsoek nie. As nuusfotograaf het ek in Pretoria by ’n proefplaas gesien hoe weerlig seker ’n goeie 20 stuks beeste wat in die storm onder ’n boom skuil, met één slag doodslaan.

Dit is dus nie vreemd as jy dié tyd van die jaar in die Bosveld kamp en die weer steek laatmiddag op nie. Die wolke se gegrom kom gewoonlik uit die weste, en dis amper asof Moeder Natuur haar oog op die horlosie hou, want vandat die wolke jou met oorgroot druppels begin peper – met die gepaardgaande vuurwerk – is dit gewoonlik net ’n uur en dan is alles verby.

Dit was ook die geval ’n paar jaar gelede by ’n oord buite Venstersdorp. Ons sien die weer in die weste oorkant die Rietspruitdam opsteek, en omdat dit nog so ’n uur of wat sou wees voor die reën val, moet ons besluit of ons gou ons vleisie gaan braai en of ons gaan wag en kyk of daar ná die storm genoeg tyd en lig is.

Dié dag pak die wolke só dig saam dit lyk swart. Kort-kort sien jy blitse wat aarde toe slaan soos die voelers van ’n kwaai ondier. Dan hoor jy ná ’n paar sekondes die dreuning en jy weet die weer het vandag geen keer nie. Ons wag eers met die vuurtjie, die donderbui doen sy ding, en agterna kry ons darem geëet.

Toe, teen laat skemer, begin die wind van die verkeerde kant af opsteek – die stormwolke wat pas hier oor is, is op pad terug! Dié slag – en te oordeel na die rukwinde – kom hier groot moeilikheid. Ons kamp met ’n boswaentjie, en ek hoop die stormtoue waarmee ek die tentpale geanker het, staan sy man teen die omgekrapte wind.

Dié dag pak die wolke só dig saam dit lyk swart. Kort-kort sien jy blitse wat aarde toe slaan soos die voelers van ’n kwaai ondier.

Die hemele se sluise gaan wéér oop, en dan skiet die bliksemstrale weer. Met die volgende rukwind sien ek hoe ons hele tent vir ’n oomblik lig. En ek besef: As die wind nóú hier vat kry, skeur hy die tentseil van die waentjie af. Ek hang aan een van die hoekpale en lê met my hele gewig teen die kantseil. Terwyl ek hoop die storm waai gou oor, beduie ek vir die kinders met hulle pieringoë hulle moet onder die komberse inkruip.

Die volgende oomblik voel dit of ’n weerligstraal die wa se koppelstuk raakslaan: ’n oorverdowende slag. En toe gebeur iets wat ’n mens net in flieks sien. ’n Stroom statiese elektrisiteit skiet my lyf deur die pale binne met so ’n masjiengeweer-effek. Ek kan nie onthou of ek gedink het die einde het vir my aangebreek nie, maar ek onthou wel ek was lam van skrik.

En eers die volgende oggend was dit duidelik hoe groot die verwoesting was. Nie ’n enkele stoeptent het gestaan nie, en baie van hulle was aan flarde met die pale gebuig. Gazebo’s het weggewaai; van hulle lê doer in die lande. Buite dwaal kampeerders rond met nagklere en deurmekaar hare. Doelloos en effens verward.

Presies ’n jaar gelede bring ons die laaste dag van 2017 in die Krugerwildtuin deur, boonop in ons gunstelingkamp, Shingwedzi. Wat is dan beter om die jaar te groet as met ’n ete in die restaurant? Dis net minder as 10 minute se stap van die kampplek af na die oop restaurant met sy grasdak.

Die kinders kry soos altyd wanneer ons gaan uiteet, ’n melkskommel, maar ons vra die kelnerin om eers die kos te bring, want as hulle eers die melkskommel in het, sit en peusel hulle agterna lusteloos aan die kos.

Mense sal my as ’n vervelige uiteter beskou, want nege uit die tien keer, ongeag waar ons eet, bestel ek ’n hoenderburger. Maar dis die laaste dag van die jaar en tyd om van dié veilige gewoonte af te wyk. Die buffelpastei smaak vorentoe, en toe ek ná die eerste proeslag terugsit om ’n sluk bier te neem, trek ’n onbeskofte stofwind onderdeur die grasdak.

Dis net-net donker, en oomblikke later val die groot druppels op die warm plaveisel en ek besef dis sulke tyd. Ons koepeltent se seilvensters is nie toegerits nie en boonop kan ek nie onthou of ek die seilvensters van ons wa toegetrek het nie. Waarskynlik nie, want dis bloedig warm én die ys-vrieskas staan uitgetrek. Ek verskoon my inderhaas en hardloop terug kamp toe. Maar dit reën só hard ek sukkel om te sien – selfs my flits se sterk straal kan nie hond haaraf maak nie.

By ons wa wag ’n onaangename verrassing: Die tent het omgewaai en die waaier was nog aangeskakel met ons klere in die oop tasse langs die bed. Ek trek en hang aan die tent se een kant terwyl die wind vir ’n vale in die teenoorgestelde rigting beur. En nou reën dit katte en honde. Ek hoor hoe die blitse sommer hier naby slaan... Omdat ek albei my hande nodig het in die stryd teen die wind, knyp ek die flits in my mond vas.

Dis eers die volgende oggend dat ’n mens die volle omvang sien van die spoor van verwoesting wat die donderstorm gelaat het. Baie van die groot mopaniebome se takke het afgewaai – een van hulle het ons wa rakelings gemis...

Maar dit was by die viswaters waar ek my nouste ontkoming met donderweer gehad het. Ek en my broer Hugo hengel op ’n boot by die Buffelspoortdam vir swartbaars, en ouder gewoonte steek daar laatmiddag ’n donderbui op. Ons gee pad van die water af en wag dat die weer ooptrek. Dis meer van ’n elektriesgelaaide storm en dit is nie lank of hy is oor.

Nog voor jy kan sê mes, is ons terug op die water om in die laaste lig nog ’n vis te haak. Maar toe gebeur iets wat ’n mens omtrent nog net in wetenskapfiksieflieks sien: Soos ek my visstok se punt optel, hoor ek ’n eienaardige zoemgeluid – so al asof ek ’n hoëspanningkragtransformator kielie met my stok. Hoe hoër die stok se punt, hoe erger raak die gezoem, en jy wág vir daardie skokskoot uit die hemele.

Die probleem is dié soort stok word van grafiet gemaak... wat ’n uitstekende geleier van elektrisiteit is. Terwyl ek en Hugo mekaar vraend aankyk oor die stokke wat so zoem, staan al ons hare te koddig orent. Dis dán dat ons besef daar’s iets groters agter die storm wat vir jou sê: “Dis nou genoeg!”