Die Etosha King Nehale Lodge, Gondwana Collection se nuutste toevoeging aan die noordekant van die Etosha- nasionale park en die eerste van sy soort in Ovamboland, se deure was met ons besoek aan die einde van Julie 2020 skaars twee maande oop.  Baie plaaslike mense is aangestel en dit was hulle eerste toerismeposte, maar net soos by al die ander Gondwana Lodges was ons ervaring uit die boonste rakke.

Etosha King Nehale Lodge
Etosha King Nehale Lodge

Ons wou graag meer oor die Ovambokultuur leer en verneem by die gids Kambonde oor die moontlikheid van ’n besoek aan ’n Ovambo-nedersetting. Nee, erken hy, mense kom gewoonlik hierheen vir die diere, maar sal hy ons namiddag na sy ma se kraal neem. Dit gee ons tyd om eers middagete te eet.

Die ander dag kla ek by my ma dat ons kinders nie nuwe kossoorte wil probeer nie. Sy reken toe dis my eie skuld omdat ek hulle altyd tegemoetkom met die etery en ‘bekende kos’ saamry as ons iewers vreemds gaan. Ek soek toe elders raad en kom af op ’n dieetkundige se webblad. Daar sê die kundiges dat ’n mens evolusionêr aangepas is om nuwe kossoorte te moet weier. Dis blykbaar om die behoud van die spesie sodat ons ons nie willens en wetens vergiftig nie. Só is dit wetenskaplik bevind dat ’n mens tot nege keer aan dieselfde nuwe kossoort blootgestel moet word totdat dit dalk aanvaar sal word deur die betrokke eter.

Later ry ons saam met Kambonde noord in die rigting van Omuthiya, die hoofdorp van die Oshikotostreek. Daar draai ons af op ’n sanderige tweespoorpad en moet met met donkies en nguni’s meeding vir plek op die pad en hoop om nie vas te sit of in ’n doringbos in te jaag nie.

Foto: Riana Scholts
Foto: Riana Scholts

Ná ’n halfuur se skud en klou stop ons langs Meme se netjiese takkraal. Dié, wat maar pas uitgevind het dat haar seun met vier gaste op pad is huis toe, staan opgewonde en wag in haar potblou kerkrok en hoed. ’n Paar kinders loer giggelend om die hoek en Kambonde maak verskoning dat dit die eerste keer is dat die kleintjies wit mense sien.

Hulle wys ons die stuk land waar Meme mahango, ’n stapelgraan, verbou. Die droë sade word fyngestamp tot meel waarvan pap gemaak word wat saam met ombidi, ’n tradisionele spinasie, geëet word.

Mahango
Mahango. Foto: Riana Scholts

Op uitnodiging gaan sit ons op die plastiektuinstoele in die skaduwee. Meme stap haar hut binne en verskyn later met ’n emmer wat sy in die loop roer. ’n Suster kom aan met skoon koppies en ná ’n vinnige ruik aan die mengsel skep Meme diep en skink. Ons word elkeen ’n beker vol oshikundu gegee en ons gashere wag met selfvoldane glimlagte vir die proeslag.

Oshikundu, vertel hulle ons, word gemaak van mahango- en sorghummeel wat saam met suiker by warm water geroer word en gelos word om te fermenteer. Ná ’n dag of twee is dit gereed om te drink. Dit bevat nie alkohol nie, hoewel van die mense laggend vertel hoe oshikundu soms hulle arms en bene snaaks laat voel!

Beleefd neem ek ’n slukkie en besef dadelik dat ek nie die boom van dié beker sal sien nie. Ek bied kamma gaaf my porsie vir die naaste seuntjie aan, wat vinnig al die inhoud in sy koppie gooi.

Daardie aand sit ons aan vir ’n koninklike buffet-ete by die lodge. Interessante bakkies vol goed word voor ons neergesit as voorgereg. In die kerslig se lig eien die seuns dadelik die broodrolletjies en begin botter smeer. Ek loer nuuskierig na die inhoud van die ander bakkies. In een is ’n tamatie-en-rissiesmeer en in ’n volgende lyk dit asof dit ’n uieblatjang kan wees; dus die kondimente. In die laaste bakkie lê ’n handjie vol kort, dik halfmaantjies. Nadere inspeksie versterk my vermoede dat dit mopaniwurms is, ’n plaaslike lekkerny. Versigtig sit ek een in my mond en gee ’n paar kousels. Genadiglik spuit hy nie in my keelgat af nie, maar ek kry nie vir mopanie gesluk nie; my hele wese skop teë.

Mopaniewurm
Mopaniewurm

Ná ete kuier ek en Nico met ’n glasie wyn langs die private plonspoel by ons chalet en tuur oor die Andonivlakte, vaalgeel uitgestrek onder die volmaan. Een kort besoekie aan Ovamboland is nie genoeg nie, besef ons. Ons sal weer moet kom. En wie weet, ná nog agt besoeke raak oshikundu en mopaniewurms dalk vir ons ook lekker.

Hoe kom ek daar?

Gondwana Collections se Etosha King Nehale Lodge is net buite die Etosha- nasionale park se King Nehale-hek aan die noordekant van die park.

Wat doen ek daar?

Bespreek ’n half- of voldagwildrit deur Etosha, geniet eksklusiewe toegang tot Gondwana se private watergat of begewe jouself in ’n unieke Oshiwambo- kulturele ervaring.

Waar bly ek?

Bespreek ’n gesins- of dubbelkamer op Gondwana Collection se webwerf www.gondwana-collection.com. Met ’n Gondwanakaart kry besoekers van SAOG- lande goeie afslag.