Skets: Fred Mouton

My nuwe paspoort het gekom – verbasend vinnig, dankie, Binnelandse Sake – en teen dié tyd weet ek wat vir my ou een voorlê. Dit gaan iewers in ’n laai begin stof vergaar, want ek is sentimenteel oor sulke goed, en gooi nie sommer weg nie. (Ek bêre stiffy disks uit die 1990’s, waarvoor die rekenaars nie eens meer bestaan nie...)

Daarom, voordat die stempel se ink begin vervaag, blaai ek vir oulaas deur dié getroue vriend wat my oor die afgelope agt jaar toegang tot soveel avontuurlike bestemmings gegun het. Dit het gaan draai in die Kongo, is al gestempel in die Durbanse hawe, én op Tristan da Cunha-eiland, halfpad Argentinië toe. Dit was in Entebbe, Uganda, bo-op die Andes in die rigting van Chili, én by Ongeluksnek op pad na Lesotho.

’n Paspoort – soos ’n identiteitsdokument – is ’n gelykmaker. Met ’n paspoort in die hand is ’n arm man en ’n ryk man kortstondig gelyk voor die glasvenster waaragter iemand met ’n rubberstempel die mag het om jou binne te laat tot ’n land: jy’s ’n Suid-Afrikaner, en dis dit. Dit maak nie regtig saak of jy te voet daar aankom, en of jy in ’n Cessna daar naby geland het nie.

In die administratiewe oë van regerings ís jy jou paspoort. Die Verenigde Koninkryk, Australië of Kanada gee nie om of jy ’n nice ou is nie – as jy daar wil besoek aflê, moet jy as Suid-Afrikaner deur allerhande hoepels spring voordat jy ’n visum kry.

Maar daar is makliker lande om te besoek. Lande wat nader is – jy kan sommer soontoe ry! Lande waar jy jou tent onder ’n doringboom kan opslaan en wraggies dalk later ’n leeu kan hoor brul. ’n Wílde leeu. Lande met tweespoorpaaie, woestynvlaktes, en strande wat stil in die vertewaas verdwyn.

‘Wie sou nie by Platjan wou gaan draai nie? Wie was die McCarthy van McCarthysrus, die Parr van Parr’s Halt, of die Grobler van Groblersbrug? Waarom Skilpadshek?’

Lande met watervalle, woude en riviere waar naguile saans roep. Dié lande is ons buurlande: Namibië, Botswana, Mosambiek, Zimbabwe, en dan Angola, Zambië, Malawi en Tanzanië. Daar’s ook ons binnebure, Lesotho en Swaziland (deesdae die Koninkryk van eSwatini).

By die grensposte van dié lande kan jy maar net met jou Suid-Afrikaanse paspoort opdaag. Jy is welkom. Jy hoef nie vooraf aansoek te doen nie. Jy hoef niemand te bel om iets te reël nie. Jy kan net jou hare kam, netjies aantrek, jou tentsak op die bakkie gooi en opdaag. Met jou groen boekie in die hand.

Só het ek – as ek so vinnig deur my paspoort blaai – ten minste agt keer die afgelope agt jaar by Vioolsdrif-Noordoewer opgedaag om Namibië van die suide af binne te ry. (As ek ooit ’n tatoeëermerk moet kry, dan is dié grens se stempels dalk nie ’n vrot idee nie.)

Daar is ander grensposte waar ek ’n gereelde gesig is, soos Mohembo tussen die Caprivi en die Okavangopypsteel. Ook Ngoma, op die Choberivier, omring deur kremetartbome. Soms staan jy in die ry en sien olifante, en dis die waarheid. Daar’s Kazungula Road, die grenspos tussen Botswana en Zim as jy Vic Falls toe ry. Dáár – aan die Zim-kant – wys hulle soms toetskrieket op die kantoor-TV (elders is dit byna altyd klanklose sepies).

My paspoort getuig ook van my gunsteling-oorglipplekke, soos Stockpoort op die Limpoporivier noord van Lephalale. Hier is jy gewoonlik alleen en die lug is vars – geen luierende vragmotors nie. Jy groet die amptenare in Tswana, aan die Suid-Afrikaanse én die Botswana-kant en jy besef: ons is eintlik een en dieselfde.

Ons grensposte, veral dié met Namibië en Botswana, het dikwels name wat jou lús maak vir reis: Vioolsdrif, Onseepkans, Ramatlabama. Wie sou nie by Platjan wou gaan draai nie? Wie was die McCarthy van McCarthysrus, die Parr van Parr’s Halt, of die Grobler van Groblersbrug? Waarom Skilpadshek?

Hierdie is die dinge wat die stempels in my paspoort my nou oor laat wonder.

Ek was nog net een keer deur Middelputs, maar ek sou graag weer daar Botswana wou binnery om te kyk of die kantoor steeds deur een mens en een meerkat beman word. Dit is nie die soort ding wat jy by Heathrow gaan teëkom nie, ek kan jou dit belowe.

'Nie al die paspoortstempels herroep lekker grensposkruisings nie.'

Nie al die paspoortstempels herroep lekker grensposkruisings nie. Sodra jy by ’n groter grenspos ’n grens oorsteek, raak dinge bedrywig – meer karre, langer rye.

Jy sal ook nie baie mense hoor wat mooi goed te sê het oor Beitbrug nie. Ek is die afgelope agt jaar twee keer daar deur. Beitbrug is skynbaar permanent in aanbou. Ek het al hier tougestaan in ’n tydelike tent én voor container-kantore. Soms staan jy in ’n binnehof wat jou laat dink aan toe jy op skool in die moeilikheid was en voor die hoof se kantoor moes wag.

Wanneer jy gereeld reis, sien jy ook verandering – soms selfs vooruitgang – by grensposte. Wanneer ek na die Sesheke-stempel kyk, onthou ek hoe glad geolie dié Zambiese grenspos se ratte was.

Die teenoorgestelde kry jy net stroomaf met die Zambesirivier, waar die chaotiese Kazungula-grenspos staan. Die Botswana-kant is dooddollies, maar Zambië se kant is ’n republiek van sy eie. Betaal iemand maar R200 om jou deur die moeras van ongemerkte kantoortjies te kry – dis nie ’n slegte belegging nie.

By Kazungula is dinge egter aan die verander, met nuwe kantore in aanbou op die Botswana- én Zambië-oewer van die rivier – en ponte gaan vervang word met ’n brug waaraan ’n span (onder andere) Koreane tans vervaard bou.

Hierdie bouery sal dalk vooruitgang beteken in Kazungula se geval, en ek hoop dat dit die lot van die ewigwagtende vragmotorbestuurders sal verlig. As ek nou my oë toemaak, sien ek ’n groepie van hulle wat skuil onder ’n lorriewa, besig om op ’n klein houtskoolbraaitjie ’n stukkie bokvleis gaar te maak terwyl ’n subtropiese donderstorm rondom hulle neergiet, iedereen ver van hulle huis in Durban, Johannesburg, Lusaka of dalk selfs Lubumbashi.

'’n Pont soos dié by Kazungula is wel een van die avontuurlikste maniere om ’n grens oor te steek.'

’n Pont soos dié by Kazungula is wel een van die avontuurlikste maniere om ’n grens oor te steek. Jy staan daar soos ’n wafferse ontdekkingsreisiger en sien ’n ander land naderkom. Jy dryf op ’n rivier vol tiervis, krokodil en seekoei. Jy kom terug van – of jy is op pad na – die Afrika waarvan jou hart bruis wanneer die kampvuur se laaste kole laag brand.

Selfs by Sendelingsdrift kan jy nog pont ry, oor die bruin waters van die Oranjerivier, met net ’n paar blouape wat jou dophou. Dit sou hartseer wees om eendag die laaste pont vaarwel te wuif.

Daar is plekke waar my ou paspoort was wat ek graag ook my nuwe paspoort wil gaan wys, soos Namibië se piepklein grenspos genaamd Kasika, geleë op die Chobevloedvlakte net oorkant die rivier van Kasane (aan die Botswana-kant). Jy moet deur Kasika (en die ewe obskure Impalila-grenspos, geleë op die eiland van dieselfde naam) as jy op van die Chobe se huisbote wil kom oornag, omdat hulle almal in Namibië geregistreer is. Waarvan ek hou van Kasika – waar daar nie eens ’n rekenaar in die kantoor is nie en dit lyk asof die amptenaar met sy Orlando Pirates-T-hemp bloot besig is om ’n blaaskans te vat van sy visvangskedule om jou gou ’n stempel te gee – is dat my paspoort hier net so geldig (en waardig) is as by Heathrow.

Dan is daar die Kasesya-grenspos tussen Zambië en Tanzanië, naby die suidpunt van die Tanganjikameer. Veral aan die Zambiese kant moet jy gewoonlik ’n kind stuur om die amptenaar in ’n huis iewers te gaan wek uit sy middagslapie (en wie sal hom blameer?). Dis ’n buitepos hierdie.

Ek onthou ook een slag, aan die Tanzaniese kant, hoe ek in ’n winkeltjie net anderkant die grenspos aan die gesels geraak het met ’n Somaliër wat uit Suid-Afrika gevlug het vir xenofobiese aanvalle. Jy vlug ook nie noodwendig terug Somalië toe in so ’n geval nie, daarom is hy terug tot hier by Kasesya. Tussen herwaarts en derwaarts.

Dit het my laat besef dat jy ’n lyn kan trek tussen byvoorbeeld Kaapstad en Kasesya. Daar mag dalk landsgrense wees tussen die een en die ander, maar padlangs is ons almal dieselfde. ’n Ander land se probleme het nie niks met ons uit te waai nie – ons maak staat op mekaar, regdeur Afrika.

Dít is waarna ek uitsien met my nuwe paspoort. Om nuwe “tatoeëermerke” te kry wat dié lyne tussen my en die mense in die lande rondom my verder sal versterk.