“Ja, ons het geweet. Almal het dit geweet,” sê van Beurden, “en ons het dit geïgnoreer.” As gevolg van enorme druk deur omgewingsbewustes én Shell se aandeelhouers wil die maatskappy nou sy sakemodel ingrypend verander.

“Ons moet vasstel wat die regte weddenskappe is in ’n wêreld wat besig is om heeltemal te verander weens die samelewing se kommer oor klimaatsverandering,” voeg van Beurden by.

Volgens die S&P 500-aandelemarkindeks het die deel van die energiesektor in die Amerikaanse effektebeurs van 28% in die jare tagtig tot slegs 5% in 2018 gekrimp. Moody’s, die finansiële organisasie wat Suid-Afrika se ekonomie in November laasjaar tot “negatief” afgegradeer het, het in dieselfde jaar gewaarsku dat aandele in oliemaatskappye ’n swak belegging is.

Wat behels die paradigmaskuif wat Shell wil maak? Hy wil sy besoedeling teen die jaar 2023 met 3% verlaag en teen 2050 met 50%. Die 113 jaar oue maatskappy wil hom nou onder meer toespits op plastiekvervaardiging en elektrisiteitsopwekking.

Die Verenigde Nasies se raad vir klimaatverandering sê egter die ganse wêreld se besoedeling moet teen 2025 die helfte minder wees en teen 2050 moet daar geen besoedeling meer wees nie. Hierdie strawwe doelwit is gestel om die ergste natuurrampe af te weer.

Volgens die VN is dit al te laat om klimaatsverandering te stuit – al wat ’n mens nou kan doen, is om die aanslag van toekomstige natuurrampe te verminder. Ons hoop nie die slegte nuus plaas ’n demper op jou vakansieplanne nie.

“Dis die era waarin ons leef. Ons moet ’n manier vind om die beste van die saak te maak,” sluit van Beurden af.