Dis beslis nie waar nie; jong slange word nie deur hulle ouers touwys gemaak nie. Hulle reageer op instink van die oomblik wanneer hulle uitbroei. Hulle weet dadelik waar om te skuil, wat om te vreet en hoe om te oorleef. Sodra hulle gebore is, seil hulle vinnig van hulle nes af weg – hulle is ’n maklike prooi vir volwasse slange wat dikwels jong slangetjies vreet, selfs dié van dieselfde spesie.

Wat van hulle gif? Baie slange se gif word bepaal deur watter prooi hulle in daardie stadium vreet. Met die verloop van tyd, namate die slang groter word, pas hulle gif aan. Hou in gedagte dat slange gif ontwikkel om hulle prooi so vinnig en doeltreffend moontlik onbeweeglik te maak.

As ’n jong kobra grootliks akkedisse en paddas vreet, sal hulle gif daardie spesifieke prooi doeltreffend verlam. Namate die kobra ouer word, mag hy dalk beweeg na knaagdiere en voëls, en hulle gif word aangepas om hierdie nuwe prooi te verlam. Slim, nè?

Die gif van slange van dieselfde spesie kan drasties verskil. Studies van slangbyte dui dit aan. Iemand wat byvoorbeeld deur ’n groenmamba (foto) gebyt word, se ledemate kan ernstig swel terwyl ’n ander pasiënt glad nie swelling ervaar nie, maar asemhalingshulp moet kry.

Die gif van ’n jong slang kan ook verskil van ’n volwasse slang s’n.

Jong slange se gif kan sterker wees, maar hulle sal aansienlik minder daarvan hê. ’n Pasgebore Kaapse kobra het byvoorbeeld minder as 50 mg gif, terwyl ’n volwassene meer as 250 mg het.

Wat gedrag betref, is jong slange nie meer aggressief as volwasse slange nie. Hulle is meestal senuweeagtig en kies eerder so gou as moontlik die hasepad. 

Jong slange speel ’n belangrike rol in die voedselketting. Hulle is die prooi van ’n verskeidenheid roofdiere soos voëls, visse, krokodille, soogdiere en ander slange. Die vrektesyfer van jonges is baie hoog en min van hulle bereik volwassenheid.

Gaan na africansnakebiteinstitute.com vir meer inligting