Soos die naam aandui, hou dié slang van hoogliggende gebiede. Hulle kan tot 3 000 m bo seevlak voorkom.

Die enigste plek waar jy bergadders naby die see sal vind, is in die berge by Bettysbaai in die Wes-Kaap. Bergadders is redelik volop in sekere gebiede. Hulle is egter gewild onder reptielsmokkelaars omdat hulle in Europa gesog is as troeteldiere.

Bevolkings word op vier plekke aangetref: die Kaapse Plooiberg, die Drakensberg (in Mpumalanga en KZN) en die ooste van Zimbabwe.

Genetiese navorsing van dié vier bergadderbevolkings in Suider-Afrika toon dat hulle al duisende jare geografies van mekaar geïsoleer is. Daar is groot variasies tussen die bevolkings, soveel so dat wetenskaplikes hulle as verskillende spesies wil klassifiseer.

Stappers kom gereeld dié geniepsige slangetjie teë, wat dikwels op voetpaadjies of klipperige rantjies te sien is.

Die bergadder is berug daarvoor dat hy humeurig kan wees en maklik sis en byt. Tog sal hy veel eerder skuiling (as skoor) soek. Sy prooi is meestal klein knaagdiere, paddas en nesvoëls. Die bergadder se gif is uniek: Dit veroorsaak pyn en swelling, maar bevat ook neurotoksiese eienskappe nes die swart mamba se gif.

Pasiënte ervaar dikwels asemhalingsprobleme ongeveer vyf tot agt uur ná ’n byt. Van die 14 onlangse gevallestudies waarvan ek bewus is, moes al die pasiënte ’n week of selfs langer in die hospitaal opgeneem word en aan ’n ventilator gekoppel word.

Een van die opvallendste newe-effekte van ’n bergadderbyt is ooglede wat swaarder hang en pupille wat ongewoon wyd is. In een geval het ’n jong seun se pupille twee jaar buitengewoon wyd gebly! ’n Ander unieke kenmerk van bergaddergif is dat dit jou sintuie beïnvloed.

Sommige mense kan maande of jare lank niks ruik of proe nie. Daar is ongelukkig geen teengif vir ’n bergadder se byt nie – dokters behandel net die pasiënte se simptome. www.africansnakebiteinstitute.com

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook