Die pofadder se sitotoksiese gif kan weefselskade veroorsaak, maar sterftes is gelukkig min.

Pofadders baar “lewendige kleintjies” – tussen 20 en 40 op ’n slag (die eiers broei binne-in die wyfie uit). Dus is daar geen eiers wat geaas kan word nie. Pasgebore pofaddertjies verlaat onmiddellik die ma, wat hulle kans op oorlewing verhoog.

Herpetoloë van die Universiteit van die Witwatersrand het in die Dinokengwildreservaat pofadders met radiosenders nagespoor en ontdek dat die slange hulle nie gebyt het nie, al het hulle bo-op hulle gestaan!

«·ße¦û?ëÍÿ

Hulle wou weet hoekom nie en gum boots – met klippe binne-in – bo-op slange gesit wat in die gras wegkruip. Nie ’n enkele slang het geroer of gesis nie. Die navorsers het tot die gevolgtrekking gekom dat pofadders op kamoeflering staatmaak om hulle teen roofdiere te beskerm. Hulle sal nie byt nie, anders verklap hulle hulle posisie. (Pofadders is die prooi van verskeie karnivore, roofvoëls en ander slange, veral wipneus- en Kaapse kobras.)

Wanneer die pofadders hulle gekamoefleer het, kon nie eens opgeleide spoorhonde hulle vind nie. Ook nie muishonde of olifante nie! Dit het bewys dat pofadders in kamoefleermodus geen reuk afskei wat roofdiere lok nie.

Dit maak dus sin dat die meerderheid pofadderbyte deur jong slange is, aangesien hulle nog baie rondbeweeg. As jy baie tyd in die bosveld deurbring, is die kanse goed dat jy al op ’n pofadder getrap het sonder dat jy dit weet.

«·ße¦û?ëÍÿ