'n Paar algemene mites doen die ronde. Sommige mense sê dat jy kan weet of ’n slang giftig is deur te kyk of sy pupille rond of vertikaal is. Ander sê dis in die kop – is dit rond of plat? Dis net mites, en dis beter om so gou moontlik by ’n kenner uit te kom.

Ongeveer 72 van ons slangspesies is nie giftig nie, maar hulle byt wel. Daar is 51 giftige slangsoorte waarvan die giftande agter in die bek is. Die meeste van hierdie, soos die rooilippie, tierslang en sandslang, se byt is nie dodelik nie.

Die boomslang en die takslang word as uiters gevaarlik beskou, maar hulle byt mense selde omdat hulle in bome hou en in die algemeen redelik rustig is.

KAAPSE KOBRA

Die slange waarvoor jy moet oppas, is elapiede wat kort, vaste giftande voor in die bek het. Hulle sluit kobras, mambas en rinkhalse in. Laastens, die adders: Daar is 25 spesies, waarvan twee as dodelik beskou word: die pofadder en die Gaboenadder.

Alle adders het groot skarniergiftande wat teen hulle verhemelte terugvou wanneer hulle dit nie gebruik nie.

Van die 4 000 tot 5 000 mense wat jaarliks in Suid-Afrika gebyt word, word net sowat 1 000 in die hospitaal opgeneem (dit is moeilik om volledige statistiek van ons buurlande te kry). Minder as 15% van hierdie gevalle is ernstig genoeg vir ’n teengif. Slegs ’n dosyn dodelike byte word jaarliks aangemeld.

Sowat 90% van alle ernstige slangbyte in Suid-Afrika is dié van die pofadder en Mosambiekse spoegkobra. Albei hierdie slange het sitotoksiese gif. Die gif versprei stadig, en kan erge weefselskade veroorsaak. Hulle byt is baie pynlik, maar jy sal nie sommer doodgaan nie.

POFADDER

Die meeste slangbytsterftes is egter as gevolg van slange met neurotoksiese gif, soos die Kaapse Kobra en swartmamba.

Hoe ook al, wanneer iemand gebyt word, moet hulle dadelik by ’n dokter uitkom.

Lees meer by: africansnakebiteinstitute.com