Die Swaeltjies het in 1998 by die ATKV-Eiland-spa ontstaan toe ’n klomp kampeerders besluit het dit sal lekker wees om kontak te behou.

Ons het besef almal van ons, van wie die meeste pensioentrekkers was, is nét soos swaeltjies wat vlug van die koue,” vertel die voorsitter, Paul Jansen.

Hy beklemtoon hulle is nié ’n geregistreerde klub nie, maar eerder ’n vriendekring. Hulle het wel ’n amptelike embleem, en wanneer jy aansluit, kry jy só ’n embleem plus ’n nommer.

Jou naam, foonnommer, adres en verjaardagdatum word ook op hulle lys gesit wat dan onder lede versprei word saam met hulle nuusbrief, wat ook inligting bevat oor aktiwiteite wat beoog word.

Dié aktiwiteite word saam met die oordbestuur beplan en sluit gesellighede soos bring-en-braai-, sop- en kerrie-en-rysaande in. Hulle speel ook gereeld jukskei, rolbal en ‘hoefies’.

Wanneer die kwik dus daal, haak die swaeltjies hulle waens en gaan slaan kamp op by plekke soos Eiland-spa, Thsipise of ander oorde in die KwaZulu- Natalse Noord- en Suidkus.

Maar hoewel hulle by dié plekke oorwinter, hiberneer hulle allermins. “Ons bly vir tot ses maande voor ons verkas na kampplekke in die berge of aan die kus. Hartenbos is deesdae baie gewild onder ons lede.”

Hier speel, eet, kuier en slaap hulle. Dit raak soms só bedrywig dat ’n mens later huis toe moet gaan om te rus, lag Paul.

Aan die begin van die winter vanjaar was meer as 250 swaeltjies by die Eiland-spa en net meer as 200 by Tshipise. “As jy ’n swaeltjie wil wees, moet jy óf afgetree wees óf beplan om binnekort af te tree.

Jy hoef ook nie vir maande aaneen te kamp nie. “As jy met die swaeltjies se ledelys toegerus is, kan jy met groter vrymoedigheid deur die land reis, want jy weet daar is meer as 400 vriende reg oor die land by wie jy kan aanklop as jy teëspoed kry, inligting nodig het of sommer net lekker wil kuier.

Dit kos R25 per jaar om ’n lid van die swaeltjies te wees en jy betaal ’n eenmalige R75 vir jou embleem en nommer. As jy belangstel om by dié vriendekring in te skakel bel Paul by  083 632 0696 of stuur e-pos na pauljj08@mtnloaded.co.za.