MARLENE STOLTZ van Richardsbaai skryf: My seun het dié foto in Potgietersrus geneem in die vensterbank van ’n huis geneem. Wie het nou by wie oortree en wie gaan nou vir wie eet?

Die insekkenner DUNCAN MACFADYEN antwoord:

Die goue wawielspinnekop vang enigiets wat in sy web beland – dis meestal vlieënde insekte en nou en dan ’n voeltjie (maar dit gebeur min). Hulle web is groot (1 – 1,5 m) en sterk. Dis die eerste keer wat ek so ’n foto sien!

Die slangkenner JOHAN MARAIS antwoord:

Dis ’n goue wawielspinnekop wat ’n (onskadelike) jong westelike Natalse groenslang (Philothamnus natalensis occidentalis) gevang het. Die slang raak verstrengel in sy web en word dan gou moeg. Dit is wel normale gedrag, maar ’n mens sien dit nie sommer nie. Die spinnekop sal ’n bietjie van hom vreet voordat die res biltong word.