Blase is grillerig. Blase is irriterend. Blase is pynlik. Dit is iets wat ’n mens liefs wil vermy, soos die pes of die dood. Of jou jaarlikse huiswerk vir SARS.  

My eerste ervaring van blase op ’n staptog was in Oktober 2013 toe ek aan Walking the Daisies – ’n 50 km lange staptog van Bloubergstrand na Darling vir die Rocking the Daisies-musiekfees – deelgeneem het. 

Die eerste dag se stap van sowat 25 km tot by Silwerstroomstrand was lekker en maklik. Ek het met my stapstewels gestap en geen probleme ervaar nie. Tot so teen middagete op die volgende dag, buite die dorpie Mamre... Toe moes ek op ’n duur manier leer dat stapstewels nie regtig geleë is vir lank stap op ’n (warm) teerpad nie. Ek het drie blase op elke voet gehad en hinkepink en baie selfbejammerend met plakkies aan by die musiekfees opgedaag. 

Sedertdien het ek ’n paar dinge geleer oor hoe om blase (hopelik) te systap:

1. Kies jou skoene reg 
Stapstewels is ideaal vir ’n uitdagende en ongelyke terrein, soos die Visriviercanyon of selfs die Otterstaproete. Veral met die Otter se op- en afdraande en indien jy ondersteuning nodig het vir jou enkels. Jy kan ook bogenoemde staproetes met veldloopskoene (“trail running”-skoene) aandurf, wat natuurlik vinniger droog word indien jy riviere oorsteek en jou skoene nat raak. Maar stapstewels bied beslis beter ondersteuning, veral as ’n mens dink aan Visriviercanyon se terrein en die groot aantal rivierklippe en rotse. 

Vir meerdaagse en lang stappe op meestal gelyke terrein, of op grondpaaie, sal ek beslis veldloopskoene aanbeveel. Ek het sedert 2015 twee keer die Camino-staptog in Spanje gedoen en altesame sowat 1 400 km afgelê in Salomon se XA PRO 3D skoen (ek het elke Camino met ’n nuwe paar begin). En ek het nie ’n enkele blaas gehad nie! 

In ’n stadium het ek selfs begin skuldig voel, want baie van die ander pelgrims in Spanje het ernstige probleme met blase gehad. Ek het dit nie wetenskaplik nagevors nie, maar dit het gelyk asof die meeste mense met blase stapstewels pleks van veldloopskoene gedra het... 

2. Gaan groter 
Indien jy lank en ver wil gaan stap, soos die Camino, is dit wys om ’n skoen te koop wat minstens een of een-en-’n-half keer jou gewone grootte is. Ek dra gewoonlik ’n nommer 9 UK-skoen, maar het seker gemaak my Salomon-skoene is 10 UK. Aangesien jou voete swel van die ver stap op die grond- en teerpaaie, help dit baie as jy ’n effens groter skoen dra. 

3. Twee lae kouse 

Om onnodige wrywing te voorkom, dra ek altyd twee lae kouse wanneer ek gaan stap. Indien ek met stapstewels stap, kies ek gewoonlik ’n gewone dun kous om onder my dikker stapkous te dra. En wanneer ek lank en ver moet gaan stap in veldloopskoene is my geheime wapen ’n eerste laag enkelhoë sykouse, wat ’n mens maklik by enige groot klerewinkel kan aanskaf. Op my onlangse Camino het ek weer die sykouse gedra en as tweede laag ’n paar Falke All Terrain Run-sokkies – dit bestaan nogal uit sybokhaar en is spesiaal ontwerp om blase te voorkom. 

4.Goeie ou Vaseline...

Ek het ’n daaglikse ritueel op ’n staproete. Ek hou daarvan om my voete liggies met Vaseline in te smeer voor ek soggens my sokkies aantrek. ’n Goeie produk om ook byderhand te hou is Pedi Relax, ’n voetsalf wat jy by ’n apteek kan aanskaf. Ek hou daarvan om saans voor ek gaan slaap my voete met Pedi Relax te masseer. 

Erns se Camino skoene

5.Gee jou voete gereeld “lug”  
'n Gawe Kanadese stapper, Bill Innes, het my op die eerste dag van my 2015-Camino dié raad gegee: Stop gereeld vir ’n paar minute en trek jou stapskoene en kouse uit. Dit help om jou voete lug te gee en dit is ’n goeie blaaskans. Ek het Bill se raad gevolg en seker gemaak ek trek minstens elke vyf of ses kilometer my skoene en kouse uit. En voor ek dit weer aantrek, smeer ek weer ’n dun lagie Vaseline aan my voete. Dit mag dalk liggies obsessief klink, maar ek het nog geen blase gehad nie... 

6.Dra plakkies saans 
Ek pak altyd ’n paar plakkies saam in op ’n meerdaagse roete. Nie net is dit handig om in die stort te dra (veral by ’n herberg of backpackers) nie, maar jou voete kan ook verder rus en ’n bietjie lug kry, voor die volgende dag se lang stap. 

Bogenoemde is min of meer wat vir my werk en wat ek graag met ander stappers deel. Tot dusver het verskeie stappers al laat weet dat hulle die Camino só aangepak het en ook nie enige probleme met blase gehad het nie.