Suid-Afrika is een van die lande met die hoogste aantal inheemse skilpaaie wêreldwyd, veral in die Weskus en Namakwaland. Trouens, as jy deur dié deel van die land reis, is jy amper ’n skilpad gewaarborg, in ’n natuurreservaat of sommer langs die pad. Ja, skilpaaie is eintlik ou nuus. 

Ek hou daarvan om nuwe, interessante spesies te sien, en groot was my verbasing toe ek hierdie snaakse skilpad op ’n klipkoppie in die Serengeti raakloop; in ’n omgewing wat nie bekend is as skilpadwêreld nie. Behalwe die ongewone terrein het die skilpad se vorm ook uitgestaan – hy was so plat soos ’n pannekoek! Ek moes glimlag toe ek uitvind dit is inderdaad ’n pannekoekskilpad (Malacochersus tornieri) – ’n inwoner van die klipkoppies in die noorde van Tanzanië en die suide van Kenia.

Behalwe die ongewone terrein het die skilpad se vorm ook uitgestaan – hy was so plat soos ’n pannekoek!

Die plat dop is ’n aanpassing by sy leefstyl tussen die klippe sodat dit maklik in skeure vir vyande kan wegkruip. Anders as ander skilpaaie, wat ’n soliede dop het, het die dopbene van die pannekoekskilpad baie openinge wat dit ligter as ander skilpaaie maak. By nader inspeksie word die dier se leefstyl duidelik, want baie jare se kruip onder rotse het die dop al verweer.

Die skilpad is ’n relatief goeie klimmer en beweeg redelik vinnig, en, anders as ander skilpaaie wat in hulle dop wegtrek, sal ’n pannekoekskilpad eerder weghardloop. 

Een van die diere se grootste bedreigings is mense wat dit wil versamel. Hoe vreemder ’n dier is, hoe meer gesog word dit in die troeteldierhandel. Dit plant relatief stadig voort en bevolkings wat geoes (lees: gestroop) word, sal baie jare vat om te herstel. Baie vind ook hulle weg na Europese markte, en jy kan jou indink: vir ’n reptiel wat gewoond is aan die Serengeti-somer, voel ’n Britse winter net so vreemd soos ’n lewe op Mars.