Neem ’n foto en stuur dit vir die navorsers, en jy wen dalk ’n koepon vir fotografietoerusting ter waarde van R10 000.

Hoekom word die navorsing gedoen? Geelbekrenostervoëls kom in Suid-Afrika net in die Krugerwildtuin en omliggende private reservate voor. Die spesie het teen die einde van die 19de eeu uitgesterf in SA, maar toe weer vanself in 1979 in die Shingwedzi-gebied verskyn.

Die navorsingspan, onder leiding van Guy Hausler van Sanparke se veeartsenywilddienste in Skukuza, wil vasstel hoe dit deesdae met die spesie gaan: Onder meer hoe hulle versprei is, hoe en waar hulle nesmaak, en watter gasheerspesies hulle verkies.

Maak seker dis ’n geelbekrenostervoël! Die geelbekrenostervoël hang dikwels saam met rooibekrenostervoëls by dieselfde gasheerspesies rond, wat verwarrend kan wees. Onderskei die spesie só van sy rooibekneef:

  • Die geelbekrenostervoël se bek het ’n duidelike geel basis.
  • Rooibekrenostervoëls het ’n prominente geel ringetjie om die oog.
  • Geelbekrenostervoëls het ’n ligte, beigekleurige lyf.

Watter inligting moet ek stuur? Die datum, GPS-koördinate en beskrywing van die ligging, die soort gasheerspesie, en ’n foto van die voël.

Kyk of jy enige nesmakery sien, en stuur dié inligting ook aan die navorsers.

Waarheen stuur ek dit? 079 967 6109 (WhatsApp); knpoxpeckers@gmail.com of deel dit op die Facebookblad: facebook.com/KNPoxpeckers/

Of gebruik dié app As jy die Birdlasser-app gebruik, kan jy vir die projek soek onder “Conservation causes” en dan outomaties enige inligting oor ’n geelbekrenostervoël wat jy sien aan die navorsers stuur. Dié voëlkyk-app vir iOS en Android is gratis. Laai dit af by birdlasser.com

Let wel
Moet geen foto’s van renosters op sosiale media deel nie; e-pos dit eerder direk aan die navorsers.

Hoe werk die kompetisie? Elke foto (van ’n afsonderlike besigtiging) tel as ’n inskrywing. ’n Gelukstrekking word aan die einde van 2018 gehou