Die Kgalagadi-oorgrenspark is heeljaar ’n besoek werd, maar as jy teen 40 ºC smelt, is ’n kuier in die middel van die somer nie vir jou nie: Daar gaan net ’n klam kol van jou oorbly.

Tog het die warm seisoen sy voordele: Jy kry makliker plek en kan skouspelagtige donderstorms sien, want dis ook die reënseisoen. Ons het egter die park in die eerste twee weke van Januarie – voor die reëns – besoek en dit was toe nog kurkdroog.

Tog het die warm seisoen sy voordele: Jy kry makliker plek en kan skouspelagtige donderstorms sien, want dis ook die reënseisoen.

Dié keer het ek en my man, Roy, besluit om die park van Mabuasehube aan die Botswanakant af te benader. Die Botswanakampplekke se geriewe wissel – die mees basiese stanings het slegs ’n naambordjie en daar is dalk ’n puttoilet met ’n dakkie. (Ek verkies egter die oop toilette... die ventilasie is beter.)

Aan die luukse kant het jou kampplek dalk ’n emmerstort (bring jou eie water) en die héél beste kampplekke het alles – ’n bordjie, ’n puttoilet, ’n emmerstort én ’n A-raamskuiling. Saam met só ’n skuiling kry jy ook dikwels ’n paar ekstras, soos ’n inwonende muishond of grondeekhoringgesin, rooibekfisante en ’n paar gróót leeus.

In die Mabuasehubedeel is daar nie heinings wat wilde diere uit jou kamp hou nie. In hierdie A-raamskuiling moet mens én dier skuiling soek teen die hittte.

As jy dalk ’n kampplek met ’n leeu kry, moet jy liewer maar na die een langsaan skuif – om te stry en te sê jy het vooraf bespreek en betaal, sal nie help nie. Die Mabuasehubedeel van die Kgalagadi het baie wild en die watergate is bésig.

Ons sien in die middel van die dag ’n ongelooflike verskeidenheid roofvoëls by Mpayathutlwa: witkop- en swartaasvoëls, volwasse én jong berghane, ’n roofarend en ’n dominerende sekretarisvoël wat lyk asof hy die ander voëls ontsenu.

Ons het ’n daktent en die eerste oggend maak ’n gedempte steungeluid my wakker.

Ek loer deur die sypaneel en sien ’n mooi leeuwyfie.

“Roy! Kyk!” sis ek. “Daar’s ’n leeu buite die venster!”

Jong leeus pak mekaar in ’n speelgeveg naby die Craig Lockhart-watergat in die Nossobrivier-bedding

Ek loer by die ander kant uit en voeg by: “Daar’s een buite jou venster ook, en ’n paar agter ons, én aan die onderpunt van ons leer…”

Ek en Roy bly roerloos sit, behalwe vir ons oë wat kyk hoe sewe wyfies en twee jong leeus ons tent omsingel. Op dié tydstip is ek bitterlik dankbaar Roy het op die daktent aangedring – ek het in ’n stadium gedink dis ongerieflik.

Die jongeling aan die onderpunt van die leer skuif sy blik heen en weer tussen ons en die tent se los ankertoue, asof hy besluit watter een lekkerder gaan wees om aan te kou.

Gelukkig besluit sy trop om aan te beweeg na die volgende kampplek (MAB3, sowat 200 m weg) en ons hou met verkykers dop hoe die inwoners van ’n grondtent by MAB3 vinnig in hulle voertuig spring en van daar af foto’s neem van die leeutjies wat aan hulle tent kou.

Nadat die leeus aanbeweeg het (met hulle tande heerlik skoon geflos deur tentseil!) gaan gesels ons met die ander kampeerders – hulle het die storie baie geniet!

Ek en Roy bly roerloos sit, behalwe vir ons oë wat kyk hoe sewe wyfies en twee jong leeus ons tent omsingel...

Hulle wens ons voorspoed toe vir ons reis na Matopi, waar hulle ’n paar aande gelede ’n “vriendelike” luiperd by hulle tent se ingang ontmoet het…

Matopi is ’n halfwegpunt op die pad tussen Mabuasehube en Nossob.

Ons staan oor by Matopi 1, wat ’n paar mooi bome en ’n bedekte puttoilet het. Dit maak ons egter ’n bietjie hartseer om vyfliter-waterbottels te sien wat oor die kampplek verstrooi lê.

Ek en Roy maak dit bymekaar en begin dan teen skemeraand rondkyk vir die luiperd. Ons gaan slaap uiteindelik nadat ons slegs ’n paar oë in die verte sien wat dalk (of nie) dié van ’n luiperd kan wees.

Dis eers later toe ons is in Kaapstad terug is dat ons die ontstellende nuus sou hoor: Die nag voor ons by Matopi aangekom het (4 Januarie), het die “vriendelike” luiperd ’n slapende kampeerder in haar tent aangeval en haar been ernstig beseer.

Haar groep het deur die nag gery (op paaie wat selfs in die dag ’n uitdaging is) om haar in Upington by ’n hospitaal te kry. Ek vermoed die plastiekbottels wat ons so ontstel het, was ’n gevolg van hulle skielike vertrek.

Ek het ná die nuus ook my naïwiteit bevraagteken. ’n Mens kry nie iets soos ’n vriendelike luiperd nie. Mooi, ja, en ontsagwekkend – maar nie vriendelik nie.

n Jong luiperd naby Kamqua sit sy beste voetjie voor vir dié foto.

Van Matopi af ry ons aan na Nossob met die gerief van lugverkoeling, ’n spoeltoilet en ’n stort met water, maar sonder die stilte van ’n plek met geen ander mense nie.

Die kampswembad is effens vuil, maar tog ’n welkome koeligheid. Swaelstertbyvreters kom plons ook in voor hulle tot rus kom in ’n boom vol ander voëls: ’n swartbandlangstertjie op soek na insekte en ’n Kalahari-wipstert wat aan die onderkant van die boom rondhop.

Ons kry ’n huisie langs die rivier wat uitkyk oor die watergat – ’n gelukskoot! Bedags kraai duiwe, jakkalse en edelvalke koning by die watergat. Sandpatryse kom maak ook vir ’n kort tydjie ’n draai – hulle is maklike prooi vir enige roofdiere wat dalk in die ronde is.

Ná sononder neem die aantal jakkalse toe en hulle kondig luidkeels die koms van groter roofdiere aan. Met vele vorige besoeke aan Nossob het ek my verkyk aan die geveerde skouspel by die watergat, maar het min ander dierelewe gesien. Hierdie keer is dit anders: Die groot ouens kom wys lyf – eers ’n bruinhiëna en toe deur die loop van die nag ook ’n jagluiperd en leeu.

Die hoogtepunt van die aand is egter ’n groot leeumannetjie wat skaars vyf meter van ons (baie stewige) stoepreling af kom rus – staal en sement is ’n baie meer gerusstellende versperring as ’n tent se seilflap!

Hierdie keer is dit anders: Die groot ouens kom wys lyf – eers ’n bruinhiëna en toe deur die loop van die nag ook ’n jagluiperd en leeu.

Die volgende oggend ry ons Kieliekrankie toe en sien ’n verdorde landskap waar ’n verskeidenheid spesies wonderbaarlik oorleef.

Twee hiënas het die watergat by Jan se Draai in ’n plonspoel verander, en ’n paar gemsbokke moet teleurgesteld toekyk.

By Jan se Draai het twee hi?nas die watergat in ’n modderbad verander.

Daar is ’n “groen kol” op pad na Kij-Kij waar ons meer diere en voëls sien, maar die landskap word gou weer kaal van droogheid. Die duinepad na Kieliekrankie voel welig in vergelyking met die res van die omgewing.

Ondanks die hitte sien ons steenbokke en gompoue terwyl ons deur die duine ry. Kieliekrankie se uitsig oor die duine en die stilte van ’n kampplek met plek vir slegs tien mense is ’n welkome afwisseling ná Nossob se gedruis en opwinding.

Met aandete kyk ons hoe ’n bruinhiëna versigtig by die watergat kom drink. Die volgende oggend ry ons teen die Auobrivier op terug na Nossob, en steek die duine by Kamqua oor.

Op Gemsbokplein poseer ’n selfversekerde jong luiperd vir foto’s. Die stowwerige rivierbedding bied ook wonderlike sandbadgeleenthede vir volstruiskuikens, en oral is meerkatte en eekhorings aan ’t kos soek.

’n Mikstertbyevanger, ’n paar koringvoëls en ’n rooiborslaksman hou dié aksie dop op soek na ’n lekker krieseltjie om te aas. Ná ’n veel stiller nag in Nossob ry ons na Gharagab.

Die Kgalagadi is bekend vir sy leeus, maar vo?lkykers kan hier ook ’n verskeidenheid vo?lspesies sien, soos dié witkopaasvo?l en jong stompstert- arend by Mpayathulwa in die Mabuasehubedeel van die park
Die koningblousysie by Grootkolk naby die Aoubrivier.

Ons hou by die Lijersdraai-piekniekplek stil vir middagete en ’n eskader wewers wag ons in – angstig om te sien of ons dalk enige krummels laat val. ’n Enkele baardmannetjie en bosveldtjeriktik pik-pik skugter in die wilde bondel. ’n Mens kan net met ’n eenrigting-4x4-paadjie deur golwende rooi duine by Gharagab uitkom.

As jy eers daar is, voel jy baie ver weg en eenkant. Dis doodstil hier, en snags lyk dit asof die sterre geen einde het nie. Vier gevlekte hiënas wat in die watergat kom baljaar, is die hoofrolspelers van die aand se vertoning.

Dis doodstil hier, en snags lyk dit asof die sterre geen einde het nie.

Toe hulle verkas, kom maak ’n bruinhiëna ook ’n draai op die verhoog. Die volgende oggend vat ons dit rustig voor ons in die rigting van Grootkolk ry, waar ’n reuse-elandtrop vir die grootste verrassing van ons roete sorg.

Dis een van daardie onverwagte oomblikke in die Kgalagadi wat ’n mens se asem eenvoudig wegslaan. Anders as by ander kampe waar die verblyf ’n bietjie hoër geleë is, is Grootkolk se chalets op dieselfde vlak as die watergat gebou.

Ons het nog altyd hier koningblousysies gesien.Hierdie keer is geen uitsondering nie en ek geniet dit om te kyk hoe dié geheimsinnige mooi voëltjies hulle gang gaan. Die inwonende versamelvoëls, gryskopmossies, tiptolle en glansspreeue vul die prentjie aan, met ’n pylstertrooibekkie wat ’n spatsel kleur verleen.

Die enigste kat wat ons sien, is ’n vaalboskat wat watergat toe sluip. Bruin- en gevlekte hiënas kom lê ook besoek af, met ’n nonnetjiesuil oog gooi. Maar die skouspelagtigste ding wat ons sien, is ongetwyfeld ’n groot trop dors wildebeeste wat ’n yslike stofstorm opskop.

Ná twee heerlike – en ja, baie warm! – dae by Grootkolk ry ons aan na die Kalahari-tentekamp, oor die duine by Dikbaardskolk. Langs die pad sien ons ’n leeu met ’n swart maanhaar wat skaars 10 m van die pad af onder ’n boompie lê en slaap.

’n Leeuwelpie het pas wakker geskrik ná ’n middagslapie. Die meeste diere slaap bedags om die hitte te vermy.

En in die baie droë Auobrivierbedding staan ’n paar kameelperde – altyd ’n verrassing in so ’n droë landskap! Die Craig Lockhart-watergat is een van my gunstelinge en met ons besoek is dit ’n miernes van bedrywigheid – selfs al is hier geen water nie. Hier’s nóg kameelperde, asook ’n paar gemsbokke.

Ek en Roy sit en toekyk hoe die ma van ’n pasgebore springbokkie naderende jakkalse bestorm om haar nuweling te beskerm. Die volgende oggend lê ’n trop van 11 leeus lui onder ’n boom by die watergat.

Die welpies speel tog te lekker terwyl ’n gevlekte lyster en troupant hulle gang gaan – min gepla deur die teenwoordigheid van die grootkatte. Ons gooi by Mata-Mata brandstof in, draai om en mik terug Urikaruus toe vir ons laaste aand in die park.

Dis snikwarm en my nat sarong doen sy ding. Van al die boskampe het Urikaruus die naaste en toeganklikste watergat.

Met my vorige besoek het ek net springbokke hier aangetref, maar dié keer word ons bederf: Die aand begin met twee koedoebulle (’n ongewone gesig in die Kgalagadi), gevolg deur ’n tingerige silwerjakkalsie, luiperd nommer een, twee leeus, luiperd nommer twee, ’n alleenloper-jagluiperd en twee reuse-ooruile!

En dan is dit tyd om huiswaarts te keer. Die hitte het enige angstigheid weggeskroei en dit vervang met ’n verwondering oor die plante en skepsels wat in hierdie harde landskap oorleef.

Weet voor jy waai

PJ-hulle het by Mabuasehube (privaat) en Matopi (DWNP) gekamp.

Die kampplekke aan die Botswanakant van die Kgalagadi-oorgrenspark word deur óf die departement van natuurlewe en nasionale parke (DWNP) óf private konsessies bestuur.

Die konsessie wat die kampplekke by Mabuasehube bestuur, is die Inter-toerismegroep.

Departement van natuurlewe en nasionale parke: 00 267 318 0774 (Gaborone-kantoor); dwnp@gov.bw

Inter-toerismegroep: 00 267 350 0999; traveloptions@inter-tourismgroup.cominter-tourismgroup.com

Dis aansienlik makliker om ’n bespreking te doen vir verblyf aan die Suid-Afrikaanse kant van die reservaat. Gaan na sanparks.org of bel Sanparke se sentrale besprekingskantoor by 012 428 9111.

Selfs as jy beplan om in die somer te gaan is dit belangrik om lank vooruit te bespreek – ongeag aan watter kant van die reservaat jy wil bly. 

Sal my kar – en ek – dit maak?

Die grootste deel van die park aan die Suid-Afrikaanse kant kan in ’n gewone sportnutsvoertuig aangepak word.

Die grondpaaie is gewoonlik sinkplaat of sanderig, maar hanteerbaar as jy stadig ry met ’n lae banddruk. Dis nie die geval aan die Botswanakant nie, behalwe by die twee lodges op die Nossob.

Jy gaan ’n 4x4 nodig hê, én genoeg kamptoerusting om selfversorgend te kan wees.

Die hoofkampe het lugreëling en swembaddens; die boskampe het nie een van die twee nie. Maar ’n nat sarong verrig wondere – as kledingstuk óf laken.



Oor die skrywer

PJ SCHWIKKARD 

Tuisstad Kaapstad

Beroep Professor in publieke reg