Die sneeu lê kniediep waar ongeveer 70 veldryvoertuie op Matroosberg geparkeer staan.

By elke voertuig kloek groepies mense saam, en agter bakkies se oop kappies word koffie uit flesse geskink. Die son skyn vrolik en eenkant span ’n gesin uit op ’n rotsbank. Hulle kon daarin slaag om hulle gasstofie aan die gang te kry en wors te braai – die kwik haak vas by 3 °C en die kookgas sukkel soms om te ontvlam.

Dit is in die dae van die Covid-19-pandemie en mense hou ’n beleefde afstand – niemand skud hand nie en jy roepgesels met jou buurman. Hier is wel ’n paar kinders en honde wat ongeërg deur die sneeu skoffel voor hulle deur ouers en eienaars teruggeroep word.

Jong mense skaterlag terwyl hulle teen die noordelike helling van Matroosberg afgly met boogie boards. Tieners lê op hulle rug in die kraakvars sneeu en grawe sneeu-engele met hulle arms en bene. Elke nou en dan hoor jy die harde “prrrrt” van ’n fluitjie – dit is Matroosberg se personeel wat waarsku as iemand dit te na aan die Groothoekravyn se loodregte krans waag.

By ontvangs al is ons gewaarsku dit is die hoogste wat ons teen die berg sou kon uitry.

Hier teen 1 900 m bo seespieël heers ’n salige gevoel van harmonie en samesyn; dit is amper asof ons op die Boland se hoogste berg nie deur die virus bedreig word nie.

Matroosberg se Facebook-blad het twee dae tevore aangekondig dit is besig om te sneeu, maar die storm is te erg en mense kan nie dieselfde dag nog teen die berg uitry nie. Ons het eerder die volgende oggend vroeg deurgeskiet tot op Ceres waar die polisie padblokkades gehou en die vlak 3-inperking afgedwing het. Heelparty Kapenaars wat die byna 200 km na die Witzenbergdistrik gereis het, moes omdraai omdat die inperkingsmaatreëls hulle verhinder om die metropool te verlaat vir onbenullighede soos sneeukyk. Ons kon darem die beamptes met ons permit oortuig om deur te gaan.

Plaaslike inwoners was uiteraard vry om in die sneeu te baljaar, en ’n paar 4x4-entoesiaste van elders wat die agterpaaie na die Matroosberg ken, kon skelm hier uitkom om sneeumanne te help bou.

Groothoekkloof
Castle Rock

By die Matroosberg- private natuurreservaat se ontvangsgebou het ’n ry gemaskerde besoekers ’n veilige afstand gehandhaaf, en een ná die ander is ons hande ontsmet voordat ons ’n register moes invul. Didi en Waldo de Kock, eienaars van die reservaat, was druk besig om die opgewonde besoekers ordelik te hou terwyl hulle dogter Heike toegangspermitte uitreik.

Die glas en metaal van die voertuie bo in die berg het in die oggendson geskitter, amper asof hulle ons nooi om ons spoedig aan te sluit. Terwyl Didi op en af teen die berg ry met haar quadfiets om die verkeervloei aan te help, hou Waldo ’n wakende oog oor die voertuie wat verbystroom. Nou en dan keer hy ’n ryding voor en raai die bestuurder aan om sy banddruk nog ’n bietjie te verlaag.

Soms laat hy selfs ’n ryding teruggedraai wat volgens sy ervaring nie die mas sal kon opkom nie. Rygoed soos ’n Audi Q5, Subaru Forester of Volkswagen Tiguan is byvoorbeeld taboe.

Die eerste hindernis word Land Rover Hill genoem – natuurlik ’n speelse verwysing na ’n sekere handelsmerk wat soms hier sukkel. (Nie dat ons enige Landies gesien het wat vashaak nie.) Dit is ’n steil helling met asknopers, skerp draaie en los klippe.

Didi se pa, Andre Smit, hou hier wag en beduie met sy kierie watter lyn jy teen die kliptrappe uit moet volg. Haak laestrek in vóór jy die hindernis bestyg – ’n ewenaarslot help beslis. As jy Andre se bevele volg, sal hy jou vriendelik vaarwel roep; vang jy nonsens aan, word jy dalk berispe.

Die volgende hindernis is Didi se Briek. Dié het ’n paar jaar gelede sy naam gekry toe ’n remvloeistofpyp gebars het en Didi se ryding buite beheer bergaf is met haar agter die stuur. Dit is ’n besonder steil bult, en as dit gereën of gesneeu het soos nou, ook seepglad. Jy gaan verskeie hindernisse op die roete raakloop met interessante name soos Hermie se Klip, Oepsie en Colt se Draai – en elkeen het natuurlik ’n interessante storie daaragter.

Sowat 4,5 km nadat ons by ontvangs weggespring het, kom die eerste aftrekplek: die Lakenvlei-uitkykpunt. By ontvangs al is ons gewaarsku dit is die hoogste wat ons teen die berg sou kon uitry.

Lekker in die sneeu!
Lekker in die sneeu!
Sneeu
YSTYDPERK. Jy hoef nie na Europa te reis om in sneeu te speel nie, maar jy moet jou datums goed kies om sneeu in Suid-Afrika te kyk want dit hou gewoonlik slegs ’n paar dae vóór dit smelt. Die sneeu in Lesotho hou bietjie langer, maar daar is beperkte verblyfopsies.
Castle Rock
Castle Rock

Sneeukykers met standaardveldvoertuie het hier uitgespan en foto’s van skaamrosies en suikerbos geneem terwyl kinders mekaar met sneeuballe bestook. ’n Paar ouens met Jeeps en ander hardebaard veldvoertuie het aangestryk na die volgende hindernis: Die Nekkie. Met ’n gespook kon hulle oor dié smal poortjie kom – ’n paar voertuie moes inderdaad uitgesleep word – en vir die volgende kilometer moes hulle deur diep sneeu ploeg.

Die dapper makkers moes by die Klipbank-hindernis die handdoek ingooi, want dit was met ’n yslaag bedek en geen veldvoertuig op aarde kon daarteen uitry nie. Die konvooi moes noodgedwonge omdraai. Op pad terug het ons by Didi se Briek vir Waldo op ’n John Deere 5615-trekker raakgeloop. Hy het vrolik in die verbygaan gewuif en geroep: “Ek gaan nou die laaste stukkie skraap – kom môre weer, want die roete sál dan oop wees!”

Dit was gister. Vandag is ons terug vir nóg ’n ronde met Matroosberg se sneeu. Ná dieselfde formaliteite as gister durf ons dieselfde pad aan... wéér oor Land Rover Hill, Didi se Briek en Die Nekkie tot by Klipbank. Waldo kon inderdaad gisteraand daarin slaag om die lastige ys af te krap én die sneeu op die laaste stuk dunner te skraap. Hy het dit darem nie heeltemal skoon geskraap nie want sy gaste verwelkom die uitdaging om met hulle veldryvoertuie deur die sneeu te beur.

Dan volg wat volgens Waldo Matroosberg se uitdagendste hindernis is: Oepsie. Dit is ’n stel klippe en trappe wat lae voertuie se onderstel kap – Waldo het blykbaar al ’n paar noue ontkomings hier beleef wat vereis het dat hy die hidrouliese lem van sy John Deere as anker gebruik sodat hy nie teen die berg se hange afstort nie. Ná Oepsie loop die pad geleidelik opwaarts tot by Castle Rock van waar dit afplat tot by die Groothoekkloof-uitkykpunt. Hier bereik die konvooi ’n slakkepas, want die laaste paar meter vereis dat jy op gladde ys teen ’n wal moet uitry, en sommige voertuie sukkel om dit reg te kry.

Een só ’n ryding, ’n Toyota FJ Cruiser met gewone padbande, het ’n halfuur gesukkel om oor die wal te kom terwyl die res van die voertuie by Castle Rock moes wag. ’n Groep kêrels moes die sosiale afstandhouding verbreek sodat hulle skouer aan die wiel kon sit en die FJ teen die skuinste uit stoot. Uiteindelik staan die hele konvooi kniediep in die sneeu by die Groothoekkloof-uitkykpunt en piekniekmandjies kom uit. Honde bokspring en kinders skaterlag terwyl hulle in die sneeu baljaar.

Oumas vra dat deure toegemaak en verwarmers aangeskakel word. Matroosberg se 4x4-roete loop nóg hoër teen die berg uit, maar die boonste pad is vandag toegesneeu.

Niemand waag dit om dié pad uit te ry nie, want selfs al is die berg kurkdroog, haal min voertuie die spits, wat 2 228 m bo seespieël uittroon. Waldo terg dat dit eintlik net Jeeps en Jimnys is wat die spits kan bereik – én sy Cruiser, natuurlik. Maar nie as die sneeu só geil lê nie.

By ontvangs al is ons gewaarsku dit is die hoogste wat ons teen die berg sou kon uitry.
Ek wil ook gaan!

Waarmee ry jy? Jy ry met jou eie voertuig, maar hy móét viertrek met laestrek hê.

Wat moet ek bring? ’n Donkerbril, sonroom, ’n jas, mus, handskoene, waterbestande stewels en ’n ekstra paar droë sokkies. Bring ook ’n lyfplank om teen die hellings af te gly, ’n piekniekmandjie, kampkombers en ’n gasbraaier om iets warms in te kry – maar onthou, sommige gasbraaiers werk nie teen lae temperature nie.

Kan ek oorslaap? Hier is kampplek en chalets aan die voet van die berg (mits die grendeltyd dit toelaat).

Tye: Jy mag tussen 07:00 en 11:00 teen die berg uitry. Besoekers bo moet tot 13:00 wag om weer af te ry, en almal móét teen 17:00 onder wees.

Prys: R250 per 4x4-voertuig plus R65 p.p. (R45 vir 0.13’s en R25 per hond). Wanneer Die sneeuseisoen is gewoonlik van Junie tot Augustus, maar dit het al in Desember hier gesneeu.

Kompressor? Hier is pompe naby ontvangs om jou bande stywer te kry. Wees op die uitkyk vir die “Air Supply”-kennisgewing (in dieselfde skrif as die Air Supply-rockgroep se plaatomslag). Een van dié groep se treffers was Strong, Strong Wind in 1997. Ons is op julle spoor, Matroosberg!

Kontak:  023 312 2282;  073 194 0885;  matroosberg.cominfo@matroosberg.com;  facebook.com/MatroosbergReserve

Groothoekkloof
Castle Rock
O gits!

Hoe takel ek sneeu en ys in 4x4?

Hier is ’n paar nuttige wenke wat jy kan gebruik wanneer jy in Lesotho of iewers naby jou op ’n sneeubedekte berg wil baljaar. Die wenke geld slegs vir veldryvoertuie wat op toegesneeude 4x4-roetes ry. ’n Ysige teerpad in ’n allewielaangedrewe voertuig is ’n perd van ’n ander kleur.

  • Bande met ’n aggressiewe loopvlakpatroon is uiteraard van onskatbare waarde. Veldrybande het ’n reusevoordeel bo padbande, en as jy beplan om Lesotho, die Vrystaat, Karoo of Boland in die sneeuseisoen te besoek moet jy nie met Pirelli P Zero’s opdaag nie.
  • Verlaag jou banddruk vir diep sneeu, maar nie so laag as wat jy sou vir los sand nie. Sneeu, veral as dit lank gelê het, kan bande makliker as sand van hulle vellings af druk, en daarom moet jy die banddruk effens verlaag. Kortom: Jy moet eers ’n bietjie sukkel voor jy verder afblaas. Vir laeprofielbande stel Waldo op Matroosberg se roete ’n betreklik stywe 1,8 bar voor, terwyl hoëprofielbande hier nooit laer as 1,5 bar afgeblaas hoef te word nie (en ook net mits jou bande en vellings so ’n lae druk toelaat). Lae banddruk help inderdaad met nat rotse en glibberige modder wat jy ongetwyfeld in sneeu gaan teëkom, maar hou in gedagte dat Matroosberg én Lesotho se roetes skerp draaie het, en diep sneeu se digtheid kan wissel tussen babapoeier en beton wat ’n band tjoef-tjaf van sy velling af kan druk.
  • Diep sneeu verg laestrekratte (4L) en goeie momentum om vorentoe te ploeg. Sodra jy ophou vorentoe beweeg, moet jy (net soos in sand) onmiddellik stilhou, vóór jy sake vererger. Skakel terug na hoëstrekratte (4H) as jy vir ’n lang ent moet terugstoot. 4H oefen nie soveel wringkrag uit op die sneeu nie en jy kan veilig in jou ou spoor terugstoot. Indien jy in 4L terugstoot, grawe jy dalk ’n nuwe spoor uit jou ou spoor, en dan sit jy op ’n ander plek vas. As jy boonop herhaaldelik vorentoe en agtertoe ploeg om te probeer loskom gaan jy die sneeu mettertyd kompakteer totdat dit ys vorm waarop jou bande nóg minder vastrap het.
  • Nóg ’n ooreenkoms tussen sneeu en sand is dat jy jou voertuig meer met die versnellerpedaal moet bestuur as met die stuurwiel. Werk lugtig met die stuurwiel en geesdriftig met die pedaal. Ons sê nie jy moet heeltyd voet-in-die-hoek ry nie, maar moet ook nie skaam wees om nou en dan vet te gee nie. ’n Uitsondering op dié wenk is wanneer die sneeu vars en donsig genoeg is dat jy maklik daardeur kan beur.
  • Probeer om teen afdraandes stil te hou eerder as teen opdraandes. Maar as jy op gladde ys stilhou, moet jy gelyk grond kies. Teen ’n opdraande gaan jy sukkel om weg te trek, en teen ’n afdraande gaan jou trokkie begin skaats, selfs met die handrem opgetrek.  
  • Steil opdraandes in sneeu soek 4L en ’n bestendige dog gretige spoed. Daarteenoor verg steil afdraandes min spoed – eintlik net genoeg om jou aan die beweeg te hou. Want nes sand gaan sneeu jou probeer rem.
  • Steil opdraandes op ys verlang 4H en momentum, maar nie versnelling nie. Sodra die wiele op ys tol, gaan jy beheer verloor. Dié beginsel geld vir alle ys, tensy jou naam Mika Häkkinen is. Steil afdraandes op ys soek 4L in eerste rat – hier werk elektroniese afdraandebeheer selfs beter. Druk die knoppie, sit agteroor en luister hoe die elektronika knorgeluide maak terwyl dit jou veilig teen die steilte afhelp. Hou jou voet liefs weg van die rempedaal, veral as jy ’n ouskoolse ryding sonder afdraandebeheer het. Indien jy wel gly, moet jy die voorwiele in die rigting van die gly draai en nooit dwars nie. Mik vir ’n lekker groot klip waarteen jy kan bots. ’n Ingeduikte buffer is veel beter as om teen ’n berg af te tuimel.
  • Baie nuwe voertuie het elektroniese programmatuur spesifiek vir sneeu. As jou trokkie ’n Sneeu-modus het, moet jy dit beslis gebruik, want dié vastrapbeheerstelsel is spesifiek vir dié doel geprogrammeer. Indien jou voertuig dit nié het nie, is dit raadsaam om die vastrapbeheer in diep sneeu af te skakel en eerder ’n doodgewone ewenaarslot in te haak.
  • Neem die volgende herwinningstoerusting saam: ’n langsteelgraaf met ’n bakvormige lem, sandplanke, ’n kinetiese strop (dit herwin beter in sneeu as ’n vaste sleeptou) en ’n waterdigte seiltjie waarop jy kan werk want, glo ons vry, jy wil nie vir langer as ’n paar minute in sneeu lê en skoffel nie!
Groothoekkloof
Groothoekkloof
Groothoekkloof
Groothoekkloof
Groothoekkloof
Groothoekkloof
Groothoekkloof
Groothoekkloof
Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook