Powered by Wikiloc

Verbeel jou jy het ’n bergspits in jou agterplaas... Jy kan in die oggend opstaan, jou windjekker aantrek en binne ’n uur hoog bo die wêreld staan met ’n koppie vuurwarm fleskoffie in die hand. Nou ja, die mense van die kusdorp Kleinmond kan dit doen. Hulle het víer maklik bereikbare pieke wat waghou oor die dorp: Jean’s Hill (188 m) en die Drie Susters (drie spitse na aan mekaar op die Palmietberg).

Die sirkelroete na die pieke begin in die klein parkeerterrein in 15de Laan – die dorp se laaste straat wat al langs die voet van die Palmietberg loop.

Palmietberg
Jy stap met ’n netjiese klippaadjie tot bo-op die Palmietberg

Die roete, wat geleidelik styg teen die hang van die Palmietberg, is sommer uit die staanspoor mooi. Terwyl jy klim met kliptrappies onderdeur kragdrade met die laaste huise nog in sig, sien jy al pienk-en-wit sewejaartjies, rooi erikas en pienk botrivierproteas tussen die palmiet en dekriet.

Ná ’n kilometer staan jy op ’n nekkie. Hier draai ’n paadjie regs na Jean’s Hill. Maar hou verby – dis net ’n koppie. Vandag gaan jy ’n berg klim!

Hou links oor die nek en klim dan geleidelik al langs die agterste hang van die “eerste” suster op.

Die roete, wat geleidelik styg teen die hang van die Palmietberg, is sommer uit die staanspoor mooi

Skielik staan jy diep in die wildernis: Golwe groen berge lê soos ’n rowwe see binneland toe sover as wat die oog kan sien. Iewers daar agter lê die dorpie Grabouw en die N2. Dit maak ’n mens hoopvol – daar ís nog wilde plekke oor, sommer so midde-in die beskawing.

Elke dan en wan kry jy ’n afdraaipaadjie see se kant toe – vat dit, want dit lei jou na uitkykpunte waar jy opnuut dankbaar voel dat jy in die Overberg bly of vakansie hou: Die blou baai lê voor jou met haar arms oop. Na links sien jy die gholfbaan en hoe die Botrivier oor die fynboslandskap see toe beur. Kleinmond lyk soos ’n Lego-dorpie uit jou kinderdae.

Op dié roete kan jy botrivierproteas, gouewawiel-webspinnekoppe en sewejaartjies teëkom.

Dis laatsomer en rondom ons is die veld groen en jy sien rooi- en bloubergpypies, malvas, heide... En voor jy jou kom kry, staan jy net onder die piek van suster no. 1. Hier’s ’n mooi uitkykpunt langs ’n menshoogte rots. ’n Paadjie swenk links tot bo-op die piek. Baie stappers draai hier om en stap terug soos hulle gekom het na hulle vakansiehuise toe, waar ’n leunstoel en ’n Binnelanders-omnibus wag – dié roete is net 5 km.

Nie jy nie; jy gaan nou éérs klim! Die sowat 800 m tussen die eerste en tweede spits is die taaiste van die hele roete – plek-plek klouter jy oor ’n rots of twee. As jy moeg raak, maak jy net asof jou veter los is.

Ná sowat ’n halfuur se gespook staan jy bo-op die tweede spits; moeg, maar met ’n gevoel van genoegdoening in jou binneste. Vier dit met ’n slukkie Game en ’n vrugtestokkie. Sê tjeers vir die blou Atlantiese Oseaan – kyk nou net wat die mense onder in hulle huise misloop.

Van hier af loop die paadjie noord, al langs ’n rif, tot by die laaste suster. Plek-plek voel dit asof jy jou maag moet intrek só smal raak dinge. Wees katvoet – dis hoog!

En kyk mooi waar jy trap – ’n??jong Kaapse bergadder het verby ons geseil.

Nes jou asem begin blaas, staan jy langs die baken bo-op die derde en hoogste spits (634 m). Van hier bo af sien jy hoe verskillende paadjies oor die landskap uitwaaier.

Doer lê die R44-teerpad soos ’n dun molslangetjie tussen die see en die berg – die afgelope somer se brand kleef soos ’n vaal letsel aan die landskap. Agter jou kronkel ’n ander stappaadjie nog verder noord, na Perdeberg (654 m) . Sien jy die paadjie doer onder in die vallei – dis waar jy netnou gaan wees.

Van nou af kan jy ontspan – die harde werk is verby. Die paadjie daal eers af in die vallei, kronkel óm die romp van die tweede suster en hou dan al langs dieselfde kontoerlyn aan die seekant van die berg. Wees op die uitkyk vir plate rooi erikas tussen die fynbos op die hange reg rondom die vallei.

Op die kontoerpaadjie stap jy elke nou en dan tussen ’n skare botrivierproteas deur – dié slungelagtige proteas word tot 3,5 m hoog. Luister en kyk mooi – Kaapse suikervoëls en oranjeborssuikerbekkies flits tussen die blare deur.

Die paadjie sluit sowat ’n uur later weer aan by die paadjie na Jean’s Hill. Daarsy, jy’s net betyds vir middagete. Mik vir die hawe, jy weet mos waar dit is.

Ná vandag het jy jou eie Google Maps-kaart van Kleinmond in jou kop.

Waar? Draai uit Hoofstraat (die R44) links – berg se kant toe – in 4de straat. Ry tot by die voet van die berg; hier is ’n inligtingsbord en parkeerterreintjie.

GPS: S34.33388 E19.02614

Afstand: Die 8 km-sirkelroete neem sowat 3½ uur om te voltooi.

Water? Bring jou eie.

Koste: Gratis. ’n Deel van die roete loop deur die Kogelberg-natuurreservaat. Laai ’n kaart van die roetes in die omgewing af by capenature.co.za (klik op “Kogelberg Nature Reserve”).