Foto's: Shaen Adey

Kaap Morgan Dagstap, Oos-Kaap

Hierdie 12 km lange sirkelroete begin by die Keimond-omgewingsentrum waar veilige parkering is.

’n Bordjie net buite die hek wys die pad die duinewoud in. Hou jou oë oop vir ’n Knysnaloerie, bosvarkspore en bondels wildepiesangbome.

Ná sowat 500 m kom jy aan die ander kant uit, na aan die grondpad na die Keimonding. Draai regs en stap met die pad af, en geniet die uitsig oor die rotsagtige kuslyn en strande aan die ander kant van die rivier. Veraf kan jy die voormalige Transkei sien. Die Kei was voorheen die noordelike grens van die Kaapse Kolonie, en vele veldslae tussen die Britte en die Xhosas is hierlangs gevoer. In die apartheidsjare was die rivier die suidelike grens van die Transkei-tuisland.

Van die pomphuis af volg die roete die rotsagtige kuslyn na Morganbaai

Hou aan stap – verby die gholfbaan – totdat jy by ’n bruggie kom (oorkant die Whispering Waves-oord), aan die buitewyke van die dorpie Keimond. Draai net voor die bruggie regs, stap af na die strand en volg dan die kuspaadjie (jy kan dit nie misloop nie) langs die rotsagtige kus.

Skaars ’n kilometer verder draai die paadjie binneland toe (volg die dagstapbordjie). Hou aan met ’n grondpad waarlangs drakebloed- en perdeprambome welig groei tot in die Kaap Morgan-natuurreservaat. Blouape hang soms rond naby die Fresh Water Lookout, wat jy op jou regterkant gaan kry, en jy sal dalk bewyse van otters (mis) en ystervarke (penne) sien.

’n Kort klim vat jou tot bo by die geoutomatiseerde Kaap Morgan-vuurtoring: ’n Stone Chance-lantern op ’n wankelrige toring wat bo die inheemse woud uitloer. Die vuurtoring is in 1964 gebou en een van net 4 langs die Wildekus. Hy straal elke 10 sekondes 2 flitse met ’n reikwydte van 24 seemyl. ’n Kort, steil afdraande bring jou tot by die strand en die oorblyfsels van ’n pomphuis wat eens deel was van ’n titaanmyn. Nadat rutiel- en ilmenietafsettings – albei soorte titaanerts – in 1952 ontdek is, het ’n myn in 1958 hier oopgemaak. Maar slegte paaie en hoë huurkoste het die ontginning van die metaal nie-winsgewend gemaak en die myn het ’n dekade later toegemaak.

Die pomphuis was voorheen die eerste oornagstop op die vier dae lange Strandloperroete totdat dit in September 2008 deur ’n storm verwoes is. Deesdae is dit ’n lekker plek vir ’n koppie tee of ’n swemsessie.

stap saam
Die uitsig van die bokant van die Morganbaai-kranse af.

Van die pomphuis af is dit ’n lekker stap langs ’n smal paadjie deur velde wilde gousblomme, noem-noems en alskruid, en oor dolerietrotse.

Soos jy om ’n draai kom, sien jy Morganbaai met sy lang strand en dramatiese kranse. Bewonder hulle nou, want binnekort gaan jy sweet op die steil paadjie tot bo-op die 56 m hoë plato. Omtrent net nadat jy op die sand gekom het, sal julle die sonverbleikte beendere van ’n gestrande boggelrugwalvis sien.

Hierdie eerste deel van die strand is wild, maar soos jy nader aan Morganbaai kom, kom jy al meer vissermanne, mense met honde, drawwers, lyfplankryers en swemmers teë.

Stap deur die dorp, talm vir ’n koffie en iets te peusel by The Deck & Bar by die Morgan Bay Hotel, en stap dan voort langs die seefront. Hou jou oë oop vir swarttobies, swartrugmeeue, vaalkiewiete en ander seevoëls. Laas toe ek die roete gestap het, het ek ’n skool Indiese Oseaan-stompneusdolfyne naby die kranse gesien. Walvisse (boggelrug- en suidelike noorkapper-) en dolfyne (bottelneus- en gewone) word gereeld hierlangs gesien, veral met die sardynloop van Mei tot Julie. As jy gelukkig is, sien jy dalk selfs ’n Bryde se walvis, wat heeljaar lank hier hou.

stap saam
Wees op die uitkyk vir die oorskot van ’n boggelrugwalvis op Morganbaai

Volg die wit spore nog een keer tot op die kuspaadjie. ’n Kort klim vat jou tot bo-op die grasagtige punt. Stap al langs die rand van die krans soos die paadjie na regs swaai. Ignoreer die paadjie na links by die volgende kruising – hy daal skerp tot op ’n platform wat deur die branders uitgekalf is – en volg die bordjie wat die uitgang vir dagbesoekers wys. Dié paadjie vat jou tot by ’n grondpad wat afdaal tot by Morganbaai. Wandel rustig terug tot onder en sluit weer net voor die Mitford Lodge aan by die paadjie waarop jy pas gestap het.

Dié keer draai jy egter nie strand toe by die Morgan Bay Hotel nie, maar volg die pad vir nog sowat 200 m totdat jy die Inchara-strandmeermonding sien. Gaan hier af strand toe, stap om die monding en kry die grondpad aan die ander kant wat jou sal teruglei tot by die omgewingsentrum (sowat 1,5 km van die strandmeer af).

Weet voor jy waai

Waar? Keimond is 92 km noord van Oos-Londen.

Afstand: Sowat 12 km. Begroot 4 tot 5 uur.

Water? Maak jou bottel aan die begin vol en kry versnaperinge en iets te drinke in Morganbaai.

Toegangstarief en kaarte: Dis gratis om die roete te stap en by die Keimond-omgewingsentrum te parkeer, maar bel vooraf vir Bryan Church (043 841 1046 of 084 034 0247) om die reëlings te bevestig. Gidskaarte van die roete is beskikbaar by die omgewingsentrum en in die meeste winkels in die omtrek.