Nadat Venus agterom die Son beweeg het, herverskyn dit vandeesmaand as die “aandster”. Venus sit aanvanklik laag op die westelike horison, maar klim aand ná aand al hoe hoër.

Mercurius neem slegs 88 dae om een keer om die Son te wentel (in vergelyking met Venus se 225 dae) en wissel dus baie vinniger (elke twee maande, om presies te wees) tussen oggend- en aandsigbaarheid.

Mercurius se sigbaarheid in 2019 is op sy beste in September/Oktober, en dis ’n gulde geleentheid om die skugter planeet te sien.

Soos gesien kan word in die tabel van maanfases hieronder, val Nuwemaan op Saterdag 28 September. Dit beteken dat die Maan totaal verswelg is in die gloed van die Son.

Op Sondag 29 September is die Maan ’n baie dun sekeltjie – moeilik, maar nie onmoontlik om te sien, nie. As jy die uitdaging aanvaar om dit te probeer sien, sal Venus vir jou wys waar om te kyk. Soos gesien kan word in die grafika, sit die sekelmaan net ’n paar grade regs van Venus. ’n Verkyker sal handig te pas kom as jy sukkel.

Teen Maandagaand het die sekeltjie groter geword nadat dit verby Mercurius en die ster Spica beweeg het, en is dus baie makliker om te sien.