stellarium.org
stellarium.org

Daarom het die Astronomievereniging van Suider-Afrika (ASSA) die “Big Five of the African Sky” geskep, kompleet met ’n webruimte (assa.saao.ac.za) oor hoe jy die vyf kan opspoor.

Elkeen van die Groot Vyf is ’n uitstekende voorbeeld van die vyf hemelliggame wat die verskillende voorwerpe die beste uitbeeld: Suidelike Plejades (oop sterswerm); Omega Centauri (bolvormige sterswerm); Eta Carinae (’n helder newel); Kolesak (’n donker newel) en die Melkweg (sterrestelsel).

Augustus is ’n goeie maand om al vyf af te merk. Begin jou speurtog sodra dit donker word. Probeer wegkom uit die stad uit – lugbesoedeling is vir sterre soos lang gras in die Kruger. Jy kan al die voorwerpe met die blote oog sien, maar ’n verkyker help wel. Begin by die Suiderkruis – dié is tans effens op sy sy gedraai. Sodra jy die twee helder “wysersterre” (Alpha Centauri and Hadar) sien, weet jy jy’s op die regte plek.

Die Melkweg (1) loop deur die kruis en is maklik om in die donkerte te sien. Die Kolesak (3) is ’n donker kol in die Melkweg reg langs die Suiderkruis.

Maak ’n klein “stersprong” – min of meer die lengte van die Suiderkruis – na die helder ster wat parallel sit met Hadar. Het jy dit? Kyk verder in dieselfde rigting vir dieselfde afstand – jy behoort Omega Centauri (2) te gewaar – die grootste bolvormige sterswerm in die nagruim.

Kry weer vir Hadar. Kyk dan van Hadar na Acrux en vir dieselfde afstand ágter die laasgenoemde.

Jy sal die Suidelike Plejades (4) en Eta Carinae (5) hier sien. Albei vertoon mooi deur ’n verkyker. Stuur jou waarnemings aan ASSA (assa.saao.ac.za). Jy kry dalk ’n sertifikaat.

Maanfases
Maanfases