As jy met die blote oog van ’n redelik donker plek af kyk na die sterretjie van die Suiderkruis wat die naaste aan die “Wysersterre” sit, sal jy net-net twee dowwe sterretjies uitmaak wat ’n perfekte driehoekie daarmee vorm. As jou oë goed is, lyk die een effens uit fokus. Trek jou verkyker nader om ’n bietjie beter te sien. Skielik lyk die sterretjie wat uit fokus is, soos ’n trossie sterretjies! Geluk, jy het pas die Juwelekissie ontdek! Die A-vorm val ’n mens eerste op – jy kan dit selfs met ’n verkyker uitmaak. Kyk ook of jy verskillende kleure sterretjies kan sien.


As jy ’n teleskoop het (ja, selfs jou strandhuismodel!) moet jy beslis daarmee na die Juwelekissie kyk. Die kleure is nou nóg duideliker – tussen die skitterwit sterretjies is rooies, geles en bloues. Die kleur van ’n ster word bepaal deur die temperatuur: Rooi sterre is koeler en blou sterre die warmste. As jy jou verbeelding gebruik, kan jy diamante, robyne en smaragde uitmaak wat in ’n juwelekissie lê.


Daar is nogal ’n goeie skoot Suid-Afrikaanse verbintenis met die Juwelekissie. Die Franse sterrekundige Nicolas Louis de Lacaille was in Kaapstad toe hy dit ontdek het – hy was van 1751-1752 hier om ’n tydelike sterrewag op te rig. Meer as 80 jaar later rig die Britse sterrekundige John Herschel ’n teleskoop in Rondebosch op, waarmee hy die “superb piece of fancy jewellery” die naam van Jewel Box gee. Vandag nog verwys baie mense daarna as “Herschel’s Jewel Box”.


Wetenskaplik is dit een van die jongste oop sterrebondels, ’n skamele 14 miljoen jaar oud! Dis 6 440 ligjare van die Aarde af en bestaan uit ongeveer 100 sterre.