Suid-Afrika is in die beste plek om die maansverduistering van 16 of 17 Julie 2019 te sien – dis ongelukkig net ’n gedeeltelike maansverduistering.

Die maan beweeg net deur ’n deel van die aarde se skaduwee en sal dus omtrent net sowat 75% verduister. Maar dis genoeg vir die maan om die kenmerkende rooi gloed te kry.

Die aarde se atmosfeer veroorsaak die roesbruin kleur – dis ook die atmosfeer wat sorg vir die rooi tydens sonondergang- en opkoms.

In daardie tye tref die sonlig die aarde teen ’n hoek en dis slegs die kleure op die spektrum met ’n langer golflengtes wat deurdring. In dié geval is dit rooi.

Die maan sal van 8.42 nm. af in die aarde se halfskaduwee inbeweeg. Hierdie fase van die verduistering is nie baie opsigtelik nie, maar vanaf 10.01 nm. sal jy dit nie kan misloop nie. Die verduistering sal teen 11.30 nm. op sy volledigste wees, waarna die hele proses in trurat gaan. Op 17 Julie – teen 1 vm. – verlaat die maan die aarde se volskaduwee en om 2.19 vm. is alles verby. 

Maanfases
Maanfases