In Ou Engels beteken mona “maan” en monath, “maand”. Ons kan dus aflei dat “maan” en “maand” dieselfde oorsprong het en dat die maansiklus op die een of ander manier aan ons kalenderjaar gekoppel is. Maar waar kom die maande se name vandaan?

Het jy al gewonder hoekom juis Februarie ’n ekstra dag kry in ’n skrikkeljaar? En hoekom is Oktober die tiende maand as okta eintlik “agt” beteken in Latyns? Net so beteken deca “tien,” maar Desember is die twaalfde maand. Nou hoe nou?

Ons maandestelsel het sy oorsprong in die Romeinse Ryk. Die oorspronklike Romeinse jaar het slegs 10 maande gehad.

Die Romeine was stryders, en daarom het hulle hulle eerste maand (Maart) na die Romeinse god van oorlog, Mars, genoem; April is genoem na Aphrodite, die Griekse godin van liefde en skoonheid; Mei na die Romeinse godin van die lente, Maia; en Junie na Juno, die vrou van Jupiter en die Romeinse godin van die huwelik en voorspoed vir vroue.

Dan is daar die eerste menslike verwysing: Julius Caesar. Die beroemde Romeinse keiser het sy eie naam in die kalender geplaas, vandaar Julie. Net so het Augustus Caesar homself die voorreg toegeëien...

Die res was net getalle. September beteken “die sewende maand”, Oktober “die agste maand,” November “die negende maand” en Desember die tiende.

Januarie en Februarie is die “nuutste” maande en is omstreeks 700 v.C. deur Numa Pompilius bygevoeg. Hy was die tweede koning van Rome.

Hy het besluit die jaar moet begin met Januarie, genoem na Janus, die Romeinse god van hekke en oorgange, wat altyd uitgebeeld word met twee gesigte wat in teenoorgestelde rigtings kyk. Een kyk na die toekoms terwyl die ander ’n oog op die verlede hou.

Februarie het sy oorsprong uit Februa, die Romeinse fees van reiniging wat jaarliks in daardie tyd plaasgevind het.

Februarie kry byna elke vier jaar ’n ekstra dag by om ons Gregoriaanse kalender (wat in 1582 deur pous Gregorius XIII ingestel is) in die pas te hou met die omwenteling van die aarde om die son. Die aarde neem 365 en ’n kwart dae om om die son te draai, en daarom moet die kalender “inhaal” om akkuraat te bly.

Maanfases
Maanfases

Sonop & Sononder (15 Februarie)

Kaapstad: 6.21 vm. & 7.39 nm.

Bloemfontein: 5.56 vm. & 7.02 nm.

Johannesburg: 5.52 vm. & 6.51 nm.

Durban: 5.36 vm.& 6.44 nm

Ontdek die sterrestelsels

Sky Guide Africa South 2020 is saamgestel deur die Astronomievereniging van Suider-Afrika en is nou op die rakke beskikbaar. Van kenners tot groentjies wat die naghemel beter wil verstaan, sal van die gids hou. Hou sommer jou dagboek byderhand terwyl jy dié boek lees – dit gee ’n oorsig van al die opwindende gebeure wat dié jaar in die nagruim gaan plaasvind. 

R145 by takealot.com

Sky Guide