Een van die redes hiervoor is omdat Mercurius so vinnig beweeg. Mercurius wentel na aan die Son en voltooi dus ’n omwenteling binne slegs 88 dae. Dit is juis daarom dat Mercurius as die vlugvoetige boodskapper van die gode gesien is en baiekeer uitgebeeld is met vlerke aan sy sandale en helm.

In ’n gegewe jaar is Mercurius rofweg vir ses tydperke sigbaar – drie keer soggens voor sonsopkoms en drie keer saans, kort ná sononder. Dit is egter nie altyd ewe goed sigbaar met elke verskyning nie – partymaal is die planeet nog half versteek in die gloed van die Son. Aangesien hy so naby aan die Son wentel, bly hy dus ook altyd naby aan die horison.

Vanjaar is Mercurius op sy beste posisie in April. Maak só seker jy weet watter “ster” is Mercurius: Kyk vroegoggend (kort voor sonsopkoms) op 2 en 3 April na die sekelmaan na aan die horison. Soos jy op die grafika kan sien, help helder Venus (tans die “Oggendster”) jou ook om Mercurius te vind.

As jy Mercurius oggend ná oggend volg (en elke dag op dieselfde tyd kyk), sal jy oplet hoe vinnig dit nader aan Venus beweeg. Teen die middel van April is hulle op hulle naaste aan mekaar en beweeg dan as ’n paar nader aan die horison. Vroeg in Mei begin Mercurius weer in die gloed van die Son verdwyn.

Maanfases
Maanfases