Foto: Jon Minster.

13 Reëls om veilig te bly

1. Moenie drink as jy swem nie.

Alkohol is verreweg die grootste oorsaak van verdrinkings.

2. Hang uit naby die ouens en vroue in rooi. 

Swem naby die menseredders en luister as hulle praat. As jy hulle sien waai, moe- nie terugwaai nie – kom uit die water uit. 

3. Moet nooit, ooit duik nie. 

Onthou, die see is nie ’n swembad nie. Omstandighede en getye verander, en al dink jy jy weet wat onder die water is, kan daar altyd ’n gevaarlike sandbank net onder die oppervlak wees.

 4. Hou die strome dop. 

Gevaarlike sleurstrome kan jou die see in trek en is die gevolg van twee seestrome wat bots. Hou die see mooi dop vir die tekens: Pasop as die water maal en kolk, as seebamboes of seegras die see in dryf, as die water se kleur verander, of as die inkomende golfpatroon versteur word.

5. Ken jou perke. 

As jy nog met opblaasvlerkies swem, bly eerder in die getypoel.

Foto: Esma Marnewick.

6. Bring ’n maatjie. 

Moet liefs nie alleen swem nie.

7. En as ek ingetrek word? 

Bly kalm en moenie teen die stroom veg nie. Trap water en probeer aandag trek deur jou hand in die lug te steek. Gewoonlik sal die stroom parallel met die kus draai en stelselmatig verswak. Dan kan jy terugswem strand toe. Wanneer ’n menseredder by jou kom, luister na sy bevele. 

8. Moenie ’n held wees nie. 

As jy iemand in ’n stroom sien, moenie uitswem en probeer help nie; dit is hoe baie mense verdrink. Gooi iets wat dryf (soos ’n bran- derplank) na hom en soek hulp. 

9. Al drywende. 

As jy op ’n kajak of iets anders is wat dryf, wees bewus daarvan dat jy baie maklik die see in gewaai kan word. Dra daarom altyd ’n reddingsbaadjie, al roei jy maar net in die vlak water rond.

10. Die blou blikskottels. 

Bloublasies lê gereeld in strepe op strande of dryf in stringe in die vlak water rond – veral na ’n winderige dag. As een van die outjies jou brand, verwyder die blou stertjie met ’n tangetjie of met jou hand (in ’n handskoen, natuurlik!), en bedek dit met iets wat koel is. Moenie die seer kol vryf nie, want dit sal die brand net vererger.

11. Jellie wat brand. 

As ’n jellievis jou brand, moet jy so gou as moontlik mediese hulp kry. ’n Jellievis se brand kan ernstig wees. As jou ledemate swaar voel, gaan dadelik hospitaal toe. Asyn of skoon alkohol kan die pyn tydelik verlig.

12. Pasop vir seedorings. 

See- kastaiings lê gewoonlik tussen rotse en jy kan maklik op een trap as jy kaalvoet rondklouter. As die stekels in jou voet afbreek, moet jy dalk by ’n dokter uitkom, anders sal dit vinnig begin sweer. 

13. Wees sonslim. 

Dis lekker om  soos ’n brons god te lyk as jy ná die vakansie by die saalopening instap, maar wees maar versigtig, want die son maak nie grappies nie. (Jy wil tog nie op 18 al soos Brigitte Bardot lyk nie...) Dis nie net sonsteek wat gevaarlik is  nie; jy loop ook die risiko om velkanker te kry van net een slegte brandslag. Bly dus tussen 11vm. en 3nm. uit die son. As jy uitgaan, bedek jou lyf, gebruik ’n breërandhoed en ’n sonroom met ’n hoë faktor.