Dot Klerck se olifantkoek. Foto: Conservation Action Trust (verskaf).

Die Cake Masters-toekennings, wat laasjaar meer as 65 000 nominasies van regoor die wêreld gelok het, is vanjaar vir die sesde keer aangebied. Die wenners in die verskillende kategorieë is op 4 November by die toekenningsgeleentheid in Birmingham, Engeland aangekondig.

Klerck het die topprys in die kategorie Beste Vertoonstuk gewen vir haar realistiese, lewensgrootte koek van ’n olifantkoei en -kalfie. Onder haar teenstanders was ’n drie meter hoë Vryheidsstandbeeld en ’n replika van ’n trourok.

Klerck is ook in 2016 genomineer in dieselfde kategorie – sy het toe ’n lewensgrootte renosterkoek gebak. Sy hoop dat dié jaar se projek groter bewustheid oor die jag van olifante gaan skep, en wil ook vir meer mense ’n idee gee presies hoe ’n olifant in lewende lywe lyk.

“Nie baie mense kry die kans om ’n olifante in lewende lywe te sien nie,” sê sy. “Dit is ’n geleentheid vir mense om te sien hoe pragtig hulle is.”

Sy vergelyk die reuse-taak met die hardloop van ’n ultramarathon. “Dit vat baie stamina – ’n mens moet dit maar ’n happie op ’n slag vat!”

Sy het met die Internasionale Fonds vir Dierewelsyn (IFAW) en The Elephant Project SA saamgewerk om die koek te bou. 

Klerck beplan om in 2018 in samewerking met BloodLions ’n trop leeus te bou en só bewustheid oor die leeujagbedryf te skep.

Bron: 

Oorspronklike artikel (verskaf): "South African Elephant Baker Wins 'Cake Oscar'" deur Louzel Lombard van die Conservation Action Trust.