foto’s Schalk Jonker

Stealth se waens het sowat ’n jaar gelede sommer met die intrapslag al die oog getref. ’n Mens kon sien die vervaardiger het lank gedink en beplan om aan kampeerders se vereistes te voldoen. Dié reeks padwaens het byvoorbeeld geen hout in hulle panele nie en pas in ’n standaarmotorhuis.

Enige vervaardiger moet egter deurgaans hulle oë oophou vir ander plekke om te verbeter, en dis verblydend om te sien hoe Stealth voortdurend aanpassings maak om in voeling te bly met die mark. Kyk maar na die XR594: Dié wa spog met genoeg plek vir vier mense én hy het ’n klompie slim nuwighede.

Op elke hoek

Die wa se voorste en agterste hoekstutte verskil – iets wat ’n mens nie aldag sien nie. Agterlangs is twee skêrstutte, terwyl die voorste twee dieselfde is as die hoekstutte wat jy op boswaens sien.

Vanweë hulle ontwerp werk die voorste hoekstutte makliker en vinniger, en hoewel hulle nie haaks kan afswaai as jy op ’n ongelyk oppervlak staan nie, werk hulle ewe goed om jou wa stewig te kry.

Kaskenades

Die deur is aan die linkerkant van die wa, regs van die wiel. ’n Buitekas, met sy deur wat as werkblad platslaan, sit skuins links bo die wiel.

‘n Paaltjie stut die blad wanneer jy hom platslaan en hy is op ’n gerieflike heuphoogte. In die kas is drie rakke met ’n 220 V-dubbelprop links van die middelste rak. Onder die blad is ’n reënbestande 220 V-prop. Die breekgoed is op die onderste rak en word in pasvorms gebêre. Bo die rak teen die romp is ’n LED-lig. 

Wanneer eet ons?

’n Laai met die tweeplaatgasstoof en ’n los plastiekskottel vir die skottelgoed trek uit die linkerkas naby die neus. Die wasbak is op die verste punt en versonke. Langs die bak is ’n sproeikop wat aan ’n waterpyp gekoppel is.

Met die laai uitgetrek sit die stoof dwars in die blad. Tussen die stoof en die skottel op die ander punt is ’n oop stuk van 44 cm, wat genoeg werkplek langs die stoof is. ’n Plaat wat net so breed is soos die stoof, slaan regop teen die woonwa op en keer dat vetspatsels teen die wa beland. ’n Kantplaat slaan dan op die oorkantse hoek op en haak in by die ander skermplaat.

Dit vorm ’n L-muurtjie van 36 cm hoog wat die wind wegkeer. Net soos die ander toebehore (soos die mikrogolfoond en yskas) is die stoof in die Stealth van Defy. Hy is nie aan die gassilinder gekoppel nie; jy moet die los silinder uit die neuskas haal en nader dra. ’n Eetgereilaai trek tussen die stoof en die skottel uit, met ’n los vlekvryestaalblad wat op die punt van die laai haak en as ’n ekstra werkblad dien.

Voor in die koor

Die deksel van die Stealth se neuskas lig op en heeltemal uit die pad uit, en dis lekker dat die opening (151 x 50 cm) omtrent net so groot soos die ruimte self is.

Dis maklik om goed hier in en uit te laai. Die 25 l-waterbottel staan links in die kas en die 5 kg-gassilinder regs, met die noodwiel in die middel.

Weerskante van die neuskas, onder op die hoeke van die romp, is wit liggies wat saam met jou motor se ligte werk. Wanneer ’n mens in die syspieëls kyk, sien jy albei net verby jou kar se bakwerk. Dit kom handig te pas as jy in die donker reguit wil terugstoot, want sodra die wa knak, kan jy nie albei liggies sien nie.

Kom gerus binne!

Omdat die deur ’n versonke trappie het, hoef jy nie ’n los een saam te ry nie. Die kruidenierskas is binne die wa, direk links van die deur. Jy kan dié rakke ook van buite die wa af bykom. Die skakelaars vir die binne- en buiteligte én die waterpomp is onder die kas en bo die brandblusser.

Die binneligte is twee plat LED- strookligte teen die opwipdak. Die opwipdak lig 46 cm en staan 1,91 m bo die vloer. Soos jy inklim, is die yskas voor jou, teen die oorkantse muur. Regs is ’n eethoekie wat jy teen slapenstyd omskep in ’n dubbelbed en links die eilandbed met sy koppenent aan die A-raam se kant. As jy inklim en terugkyk na die deur, is daar ’n kabinet regs van die deur met vier kaste.

Die kas links bo maak oop na dieselfde ruimte as die een wat jy van die deur se kant af oopmaak. Die kas direk onder dit het nie rakke nie, maar huisves die stroombrekers (én die wielboog neem van die ruimte op). Die kas regs bo het ook drie rakke waarvan die onderste twee die oop rugkante van die buitekombuiskas vorm. Dié kas (sowel as die een onder hom) het elk twee skuifdeure voor.

Die 158 l-yskas het twee plastiekknippe met nylongordels wat in mekaar druk om die deure toe te hou terwyl jy sleep. Die mikrogolfoond is borshoogte links van die yskas met ’n ruim pottekas onder dit. Die gesigwasbak is links van die mikrogolf, op ’n laer blad. Hier is ook ’n 220 V-prop vir ’n twee- of driepuntprop asook twee USB-sokke en ’n spieël teen die muur.

Die ander kant In die regterkant van die romp is net een kas wat ’n verlenging is van die kombuislaairuimte. Die spoor vir dié laai is byna 1 m diep, weg van die deur, en die ruimte is gawe ekstra pakplek. Die Evolution se kragprop sit ook diékant, neffens die wiel.

Gaan wag vir my in die badkamer...

Stealth het sowat ’n jaar gelede sy unieke buitestort as bykomende opsie vir die Evolution bekend gestel. Dit is ’n opslaanstort met twee vertrekke: ’n droë hokkie waar jy inklim, met langsaan die deel waar jy onder die water staan.

Die waterpomp is ’n verbetering op die een wat in die eerste modelle gebruik is en die elektriese geiser is standaard op dié wa. Die stort pas op bestaande modelle en word aan die agterkant van die wa vasgesit. Dit het ’n veselglasdak wat amper so lank is as wat die wa breed is en word met skarniere aan die wa vasgemaak. Soos jy die dak lig, sak die seilkante grond toe sodat jy twee hokkies het.

Die storthokkie het LED-ligte teen die dak en ’n PVC-vloer met ’n gaasrand rondom sodat die water kan dreineer.

Tyd om in te kruip

Die eilandbed is koningingrootte, maar loop smaller by die voetenent. Langs en bo die bed is nie minder nie as 15 kas- of laaideure vir jou klere, en twee laaie wat aan elke kant onder die bed uittrek – iets wat ’n mens nie in elke wa sien nie. Verder het elke slaper sy eie bedkassie. Bo die bed se koppenent is drie kaste oor die hele breedte van die wa.

Die kopkussings is direk onder dit – pasop dus as jy regop kom dat jy nie jou kop teen die kaste stamp nie. In die linkerkantste kas is ’n kragsok, dieselfde soort as by die wasbak. Aan elke kant is ’n leeslampie met ’n armpie wat kan buig. Die eethoekie is agter, regs van die deur soos jy inklim. Op elkeen van die agterhoeke is ’n bank met ’n tafelblad wat tussen die twee opslaan. Dis lekker ruim vir vier mense om aan te sit. Boonop is daar onder elkeen van die twee bankies ook pakplek.

Die tafelblad kan platslaan om die tweede bed te vorm – ’n dubbelbed wat oor die hele breedte van die wa strek.

Woonwatoets
Woonwatoets
Die tegniese goed

Lengte: 5,9 m

Breedte: 2,4 m

Hoogte: 2,1 m

Nokhoogte binne-in: 1,91 m

Netto gewig: 1 200 kg

Dravermoë: 300 kg

BVM: 1 500 kg

Prys: Vanaf R314 500

PLUS

  • Die opslaanbadkamer is ’n gawe idee, want jy het die gerief van ’n badkamer sonder om leefruimte binne die wa in te boet.
  • Die skermplaat om die stoof is ’n uistekende plan.
  • Jy kan beswaarlik vir meer pakplek vra.

MINUS

  • Die elektriese toerusting werk nie sonder 220 V-kragtoevoer nie. ’n 12 V-omskakeling is egter opsioneel beskikbaar.
  • Die werkblad het ’n rand waarin krummels kan vassit.

Ry & Sleep het wa by die vervaardiger geleen.

Ry & Sleep Die opslaanstort kos R25 000 ekstra.

Handelaarsnetwerk

Hoofkantoor in Durban en 6 handelaars landwyd (Caracamp in die Wes-Kaap, Loftus Caravan City en Kempton Caravans in Gauteng, Natal Caravans & Marine en Newcastle LeisureWorld in KZN en Middelburg Caravans in Mpumalanga).

Kontak: 031 713 8900; admin@profibre.co.za; stealthcaravans.co.za