Die welpies is in die Kuzuko- private natuurreservaat gebore, noord van die Addo-olifant- nasionale park. 

Sylvester se destydse ontsnapping het groot opslae gemaak – hy het meer as 370 km in die Groot-Karoo area geleeuloop voordat hy na die Addo-olifantpark geneem is. 

Dit lyk egter asof Sylvester nou gelukkig is by Kuzuko, sy nuwe blyplek. Hy het ’n hegte band gevorm met Fielies, nog ’n leeumannetjie, en hy en sy maat, Angel, het mekaar in Maart vanjaar gevind. Angel is as ’n wesie van vyf maande oud deur die reservaat aangeneem. 


Sylvester en Fielies

“Ons het twee leeuwyfies in die reservaat met wie die twee leeumannetjies 'n hegte band gevorm het,” sê Gerhard de Lange, die bestuurder van Kuzuko Lodge.

“Ons vermoed Angel het tussen 15 en 20 Junie vanjaar geboorte geskenk, maar leeuwyfies steek hulle welpies lank ná geboorte weg. Ons was gelukkig genoeg om hulle op 10 September vir die eerste keer te sien.”

Angel en die welpies
Angel en die welpies

“Sylvester se storie bewys dat wildbewaring altyd die beste opsie is wanneer dit reg benader word,” voeg De Lange by. “Hy het goed aangepas by Kuzuko." 

“Hy besoek Angel gereeld sedert die geboorte van die welpies. Die kleintjies het hulle pa se goeie gene geërf en is pragtig en gesond!”


Lees ook Erns Grundling se storie oor die Heuningland-staproete in die Karoo hier. Op dié roete kan stappers op Sylvester se voetspore te volg.