LUCAS MEINTJES van die plaas Quagga’s Kirk naby Dundee vertel: Die Fort Mistake-motel lê reg langs my grond. Dis genoem na die fort wat in die 1880’s deur die Engelse gebou is en vandag op my grond staan*. Die motel is in 1952 tot 1953 gebou en was die heel eerste motel in Suid-Afrika – dis presies halfpad tussen Johannesburg en Durban, ’n goeie oornagplek dus.

Die ou nasionale pad tussen Durban en Johannesburg het reg voor my huis verby geloop. Vandag is dit die N11. Die N11 is ná die Tweede Wêreldoorlog gebou en werkers moes ’n gruisgat grawe om klip te kry vir die pad.

Die motel is in 1952 tot 1953 gebou en was die heel eerste motel in Suid-Afrika – dis presies halfpad tussen Johannesburg en Durban

Toe die pad klaar is, sit my pa, Charles Meintjes, met ’n gruisgat op sy voorstoep... Hy maak toe ’n afspraak met een van die grootkoppe wat betrokke was by die pad. Die man daag later op met ’n baie smart kar – iets ongewoons in daai tyd. My pa verduidelik dat die gat vir hom onaanvaarbaar is, maar die man was nie tegemoetkomend nie. “Mnr. Meintjes, dit doen tog niks aan jou boerdery nie?”

“Ja, maar dis baie onooglik,” het my pa geantwoord. Maar die man wou steeds niks weet nie. My pa het na sy werkskamer gestap en met ’n vierpondhamer teruggekom. “Stap gou saam met my,” sê hy vir die man en hulle stap na die motor toe. Toe sê my pa: “Luister nou mooi: Ek gaan nou hierdie vierpondhamer vat, en dan gaan ek ’n duik in jou motor slaan. Hy gaan nog net so lekker loop, maar hy gaan net nie so mooi lyk nie.”

Dít het die man vinnig ’n ander deuntjie laat sing. Hulle het toe ’n wal gegooi en die gruisgat in ’n mooi dam omskep. My pa het in 1952 30 akker grond aan Andrew Swart, ’n boer in die Dundee-distrik, verkoop. Oom Andrew wou ’n motel bou. Hy het selfs Amerika toe gevlieg om te gaan kyk hoe lyk ’n motel. Die bouwerk is gedoen en dit was ’n puik plek. Die motel se naam was die Andrews Motel. Hy het later nog drie motelle gebou (buite Estcourt, op Van Reenenspas en nog een buite Volksrust).

Die motelle is rondom die jare sestig aan die Rondalia-toerklub verkoop en oom Andrew het afgetree. Sedertdien het die motel hier by ons weer ’n ander eienaar gehad en deur die jare het dit agteruitgegaan. Toe het my broerskind, Schalk Meintjes, die plek in 2013 gekoop en weer begin opbou. Vandag word dit die Fort Mistake Country Lodge genoem en is hier ook ’n padstal.

* Daar is verskillende weergawes oor hoe Fort Mistake sy naam gekry het, vertel Lucas. Een weergawe lui só: Gedurende die Eerste Boere-oorlog was die Britse weermag se basis in Durban. Hulle het glo ’n bataljon troepe gestuur om ’n fort bo-op Majuba te gaan bou, wat sowat 80 km van Fort Mistake af is. Toe hulle by die Biggarsberg – ’n reeks heuwels naby Dundee – kom, het hulle met hulle eenvoudige landkaarte gedink dís Majuba en toe in 1881 begin om die fort hier te bou. Die plaatjie wat voorheen op die fort was, het gelees “This fort was built by the royal engineers, 1881-1883; never been completed”.

Dit lyk dus asof hulle die fout agtergekom het en ophou bou het – maar die naam Fort Mistake het gebly.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #174 (April 2019) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien. 

Word deel van die Weg-wêreld
Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook.