By die koffiewinkel kan jy iets te ete en drinke aanskaf (selfs ’n glasie wyn of iets sterkers word toegelaat) en by die lekkergoedtoonbank wag jellieboontjies in papierbekertjies en springmielies in bruinpapiersakke.

Welkom by die oudste onafhanklike kunsfliekteater in Suid-Afrika! Die Labia is sy ongewone naam aan sy Italiaanse herkoms te danke. Die gebou was eens op ’n tyd ’n balsaal vir die Italiaanse ambassade (wat direk langsaan was) en die aristokratiese Italiaanse Labia-familie het in 1949 geld geskenk om die balsaal in ’n teater vir die uitvoerende kunste te omskep.

Die Labia is vandag bekend as Suid-Afrika se oudste onafhanklike kunsfliekteater. Hy het verlede jaar sy 70ste herdenking gevier met ’n vroeë vertoning van Rocketman, ’n fliek oor die lewe van die legendariese sir Elton John. Deur die jare het die Labia nog drie teaters bygekry, asook ’n koffiewinkel, kroeg en terras.

Die edelman graaf Natale Labia, wat later die titel van prins gekry het, was ’n diplomaat wat in 1917 na Suid-Afrika gestuur is. Volgens ’n artikel in The Guardian van ’n paar jaar gelede het graaf Natale baie ryk geword onder Mussolini se politieke bestel. Hy het glo die teater gebou om die Suid-Afrikaanse regering te bedank omdat hulle hom nooit gedurende die Tweede Wêreldoorlog in hegtenis geneem het nie.

Verskeie uitvoerings en toneelstukke is in die jare sewentig hier op die planke gebring totdat ’n rolprentverspreider die perseel vir ’n eenmalige avant garde-fliekfees wou gebruik. Die fliekfees was só gewild dat die eienaars besluit het om die teater in ’n voltydse bioskoop te verander.

In die apartheidsjare het die Labia ’n reputasie vir protes ontwikkel: Verbode flieks soos The War is Over – ’n prent oor die kommunistiese revolusie in Spanje – is byvoorbeeld hier vertoon.

In die apartheidsjare het die Labia ’n reputasie vir protes ontwikkel

Ludi Kraus, die huidige eienaar, het die bioskoop in 1989 bekom en begin om kuns-, kultus- en onafhanklik vervaardigde flieks te vertoon. Lokettreffers word ook elke nou en dan gewys. Maar in 2014 het die teater begin agteruitgaan. Die ou projektors het steeds flieks op selluloïedfilm vertoon, maar in daardie stadium was byna alle flieks slegs in digitale formaat beskikbaar. (Die laaste selluloïedrolprent wat by die Labia gewys het, was die Britse geskiedenisfliek Belle, met Gugu Mbatha-Raw in die hoofrol; haar pa is die Suid-Afrikaanse akteur Patrick Mbatha.)

Kraus het deur middel van skarebefondsing ’n veldtog onder Kapenaars begin om sy bioskoop te red. En meer as R150 000 is ingesamel om die Labia se toerusting en voorportaal op te kikker!

Dis nie net Kapenaars wat graag ’n aand by dié beroemde teater geniet nie. Bekendes soos Matt Damon, Salma Hayek, John Cleese en Colin Farrell is ook al by die Labia opgemerk. Van balsaal tot rolprentteater – ná 70 jaar se bestaan het die Labia bewys dat ’n mens by jou omgewing kan aanpas sonder om jou siel te verloor.

Bronne: theguardian.com; thelabia.co.za

Loer watter flieks tans hier draai

Waar? Oranjestraat 68

Kontak: thelabia.com021 424 5927; labiatheatre@telkomsa.net

ONS SOEK JOU KIEKIES.

Het jy ou swart-wit foto’s wat die storie van toeka se toere, gesinsvakansies of avonture vertel?

Stuur dit gerus na kyra.tarr@media24.com