Ná die Boere se oorwinning by die Slag van Nicholsonsnek noordoos van Ladysmith op 30 Oktober 1899 was dié dorp – waar meer as 13 000 Britse troepe saamgetrek het – volgende in hulle visier.

Die Britse bevelvoerder genl. sir George White het inderhaas nog krygstuig en proviand spoorlangs laat kom voordat die Boere die spoorlyn suid van Ladysmith opgebreek en die dorp met 10 000 Boerekrygers (sowat 13 kommando’s) beleër het.

Sir White het die Boerekommando’s uit ’n lugballon laat bespied en kort-kort met swaar skeepskanonne op hulle losgebrand – waarop die Boeremagte dan van Pepworth- en Langheuwel (noord van die dorp) af teruggevuur het.

Die bombardering van Ladysmith het ’n daaglikse gebeurtenis geword en heelwat geboue – waaronder die stadsaal – het in die slag gebly.

Die stadsaal was toe ’n tydelike hospitaal. Dié bombardering het so gevaarlik geword dat die gewonde troepe verskuif moes word.

’n Skietstaking van 24 uur is aangekondig en die Britte het hulle hospitale na die buitewyke van die dorp verskuif.

Vir 118 dae het Boer en Brit mekaar in klein skermutselings rondom Ladysmith aangevat. Genl. sir Redvers Buller het van Desember 1899 afprobeer om die dorp uit die suide te verlos, maar slaag eers op 1 Maart 1900 – en dit ná die Slae van Colenso, Spioenkop, Vaalkrans, Tugelahoogte en Platrand. Die argitek William Lucas het in 1901 herstelwerk en aanbouings aan die stadsaal gedoen, maar die toring is eers in 1923 gerestoureer.

Bronne: Die geskiedenis van die Tweede Vryheidsoorlog in Suid-Afrika, 1899-1902: Die stryd in Natal, Jan.-Feb.1900, deur J.H. Breytenbach; Field Guide to the Battlefields of South Africa, deur Nicki von der Heyde; Goverment Gazette van 10 Augustus 1979; www.battlefieldsroute.co.za

Foto: Sam Reinders
Foto: Sam Reinders