IAN LOCKHART van Vishoek skryf: 

Ek was ’n jong man van 22 toe ek en my vriend David Blaxall in 1956 besluit om Afrika se hoogste berg – Kilimandjaro (5 895 m) – in ons jaarlikse verlof aan te pak. Destyds het ek in Kericho, Kenia, as ’n assitentbestuurder op ’n teeplantasie gewerk.

Toe ons by die Namanga-grenspos tussen Kenia en Tanzanië stop, het ek ’n groot wolk gesien waar Kilimandjaro behoort te wees.

Dave het opgemerk: “Dis nie ’n wolk nie; dis sneeu!”

Ons klimtog is bespreek deur die Marangu Hotel in Tanzanië en dit het ons £20 gekos. Daarby het ons ’n gids en twee portiere gereël om ons by te staan.

Ian geklee in plaasstewels, ’n katoenpak (glo windbestand), ’n trui en ’n jas.
Dié bordjie op pad na berg Kenia vra grootvoete om tog in gelid te stap!

Oor die volgende vyf dae sou dit net ons vyf wees wat voetslaan oor plase aan die voet van die berg, deur woude, kaal vlaktes en dan uiteindelik oor die bar maanagtige deel Mawenzi en Kibo, twee van die kegels op die boonste krater van Kilimandjaro. Mawenzi is ’n uitgestorwe vulkaan, en Kibo dormant.

Toe ons die bopunt bereik, toe bekend as die Kaiser Wilhelm Spitz (vandag Uhuru), was daar geen siel in sig nie. Op die hoogste punt in Afrika was net ’n klein hopie klippe met ’n paar pale wat daarin vasgesteek is. Daar was ook boks met ’n boekie binne waarin die klimmers hulle name geskryf het. Ons het die nodige gedoen, ’n rukkie gerus en weer na onder gemik.

In daardie jare het suksesvolle klimmers elkeen ’n blommekransie met sewejaartjies by hulle portiere gekry. ’n Mens kon dit om jou staphoed plaas. Sewejaartjies was volop teen die laer hange van die berg. Ek het my kransie jare lank gehou totdat dit uiteindelik uitmekaargeval het.

In daardie jare het suksesvolle klimmers elkeen ’n blommekransie met sewejaartjies by hulle portiere gekry.

Ná my Kili-avontuur het berge my aanhou lok. In 1963 het ek berg Kenia (5 199 m) – Afrika se naashoogste – geklim. My vriend David Witham het by ’n skool in die Chimanimani-berg in die destydse Rhodesië skoolgehou en voorgestel ons takel die berg sonder ’n portier of gids. Ons was net aangewese op Guidebook to Mount Kenya and Kilimanjaro, in 1959 uitgereik deur die Mountain Club of Kenya.

Stappershutte op berg Kenia se Lewis-gletser in 1963. Links is die Old Top Hut, en regs die Arthur Firmin-gedenkhut. Nelionspits is in die agtergrond.

Ons het ’n week lank op berg Kenia deurgebring: Ons het geklim en geabseil en verskeie spitse en hange verken. Op pad na Klarwill se Hut (4 175 m), een van die oornagstopplekke op pad na die bopunt, het ysreën ons oorval. Ek het het ’n dun parka gedra en hipotermie ervaar. ’n Koppie warm tee en ’n warm slaapsak het my gered.

Ons is vroegoggend weg van die Arthur Firmin-gedenkhut op die Lewis-gletser, en toe klim ons na die laer punt, Nelion (5 188 m), wat net onder die regte bopunt, Batian (5 199 m), lê. Ons wou Batian haal, maar die tyd het ons ingehaal en ons was nie behoorlik toegerus vir die nag nie. Later die week het ons Lenanapunt geklim, op twee na die hoogste punt op berg Kenia (4 985 m), waar ons Kersdag met ’n bottel wyn gevier het. Terug van die berg af is ons na ’n Kerspartytjie van die Bergklub van Kenia in Nairobi.

Dave Witham by Lenanapunt op berg Kenia. Dave het darem regte stapklere gedra: Stewels, warm broek met gespes onder die knie, lang sokkies en ’n windjekker.

Nou, op 86, is my klimdae iets van die verlede. Op ’n klimtog was ek baiekeer bang, koud, ongemaklik, dors, honger en mislik… Hoekom het ek dit aanhou doen? George Mallory het oor Everest gesê: “Want dis daar.”

Hy was reg, maar ek het dit ook gedoen vir innerlike vrede en die tevredenheid wat die wildernis bied. Om bo te kom is ’n oorwinning, en ’n beswering van vrese.


Lus vir vakansie?
Gebruik die Afrikaanse soekenjin www.wegreis.co.za om vliegkaartjiepryse vir binne- en buitelandse vlugte te vergelyk. Teken in vir die nuusbrief om koeponkodes te ontvang vir afslag op enige binnelandse- of buitelandse bespreking (geldig tot 31 Maart 2020)!