Myrtle Fourie in haar uniform in die Letaba-ruskamp (1967).

In die jare sestig moes personeel met ’n verskeidenheid take hand bysit. Sy was betrokke by die wassery, winkel (voorraad en ook verkope) en inspeksie van rondawels. As dinge besig geword het, sou die kampbestuurder haar vra om in die winkel te help – selfs al was sy besig met rondawelinspeksie.

Ek is eers in 1966 gebore en was dus te klein om van die kuiers by haar te kan onthou. Maar my broer, Arends Pieterse, is vier jaar ouer as ek en onthou nog hoe ’n bobbejaan hom in Letaba gejaag het. My ouma het altyd vertel daar het in daardie jare baie meer diere in die kampe gekom – ’n klompie leeus het selfs eenkeer ’n bok in die kamp gevang en net daar gevreet!

My ouers, Pietie en Myrna Pieterse, het my en Arends gereeld wildtuin toe gevat – selfs toe my ouma nie meer daar gewerk het nie (sy het later as gasvrou by die Bergkwagga- nasionale park gewerk). Van my vroegste herinneringe is die wag by die hek en die reuk van ’n koel rondawel.

Een ding wat verander het, is die restaurante wat destyds aansit-etes bedien het. Die Selati-treinrestaurant by Skukuza was ons gunsteling. Die buffelsteak was hulle spesialiteit en die trein het ’n heerlike atmosfeer gehad. Ons kinders het altyd gedink ons is vreeslik groot as ons van die kaas en beskuitjies geëet het. (Die restaurant is in 1995 ná ’n brand gesluit, maar die lokomotief staan nog langs die platform by die Selati Staion Grill House.)

Onder-Sabie-ruskamp se hek, is in 1955 geneem deur Myrtle Mans se ma, Myrna Pieterse, wat toe 15 jaar oud was.
Selati-treinrestaurant, waar ’n mens onder meer vlakvark-stroganoff kon eet.

In die verlede – tot ongeveer 1990 – het daar by die ingangs-hekke ’n vuurtjie gebrand met ’n ketel kookwater. Dit was ook die gebruik by die piekniekplekke. Daai ou vuurtjie met die keteltjie was soos ’n bordjie wat ons welkom geheet het.

Ek onthou ook dat die winkels in die jare sewentig en voor dit tussen 1 en 3 in die middae gesluit was.

Ek en my man, Andries, is ereveldwagters wat gereeld diens doen in verskillende kampe en boskampe. Ons neem my ouers soontoe wanneer moontlik en het ook in 2016 my pa se 80ste verjaardag in die park gevier. Ons twee dogters, Lizette Potgieter en Cecile Mans, is ook lief vir die Kruger.

Ons gesin hou van Letaba se bome en rustigheid en ook van Tsendze en Balule – die klein kampe sonder elektrisiteit het saans ’n ongelooflike atmosfeer.

Baie het verander. Tog bly die gevoel wat ’n mens kry as jy in die wildtuin aankom, dieselfde – ’n gevoel van afwagting vir nóg ’n heerlike vakansie in dié besonderse plek.

Ons soek jou kiekies
Het jy ou swart-wit foto’s wat die storie van toeka se toere, gesinsvakansies of avonture vertel? Stuur dit gerus na suzaan.hall@media24.com