Swoesj! Dis John Love en Dawie Gous se Porsche 550 Spyder wat eerste oor die eindstreep jaag!

Op 4 November 1961 vind die eerste wedren plaas op die Kyalami Grand Prix-resiesbaan in die destydse Transvaal. Die uitmergelende uithouwedren het nege uur geduur! In die volgende twee dekades word Kyalami bekend as ’n renbaan waar jy vinnig kan jaag en lok deelnemers van reg oor die wêreld.

Suid-Afrika se matige klimaat maak van Kyalami ’n gewilde plek om die wedrenjaar te begin. Die 4,1 km lange resiesbaan is die ideale oefenlopie vir Europese renjaers wat nie in die nat wintermaande op hulle eie renbane kan meeding nie.

Die naam Kyalami is afgelei van iKhaya lami wat “my huis” in Zoeloe beteken en, net soos ons geliefde land, beleef die renbaan goeie én slegte tye. In 1967 bied Kyalami sy eerste Formule 1-wedren aan en vestig sy plek op die internasionale speelveld.

Tussen 1967 en 1985 is altesame 18 F1-byeenkomste op Kyalami gehou.

Die Engelsman John Surtees jaag in 1970 in ’n McLaren M7C

Die ikoniese nege uur lange uithouwedren duur ’n hele klompie jare totdat dit weens finansiële redes gekanselleer word. (Terloops, dit is in 2019 ná 30 jaar weer hervat.)

Die ontwerp van die oorspronklike resiesbaan het ’n reguit strook ingesluit waarop renjaers skrikwekkende snelhede kon bereik. In 1985 verower die legendariese Britse renjaer Nigel Mansell die rekord vir die vinnigste rondte om die baan en bereik hy ’n geskatte topsnelheid van 340 km/h.

In die 1970’s lok Kyalami tot 100 000 toeskouers op ’n slag. Toe was die baan ’n hele entjie van die stad af in ’n landelike omgewing. Aanhangers van motorsport was gaande oor die baan se draaie met ongewone name soos Barbeque, Crowthorne, Clubhouse, Jukskei, Leeukop en Sunset.

Die motorjoernalis Stuart Johnson besoek Kyalami die eerste keer as ’n tienjarige seun. “Destyds het musiekfeeste soos Woodstock in ander dele van die wêreld plaasgevind. Kyalami het ’n soortgelyke atmosfeer gehad. Die ouens het hulle kattebakke volgepak met bier en ys, ’n tent ingegooi en ’n naweek langs die baan gekamp. Dit was lekker tye!”

Bande word in 1978 getel by Kyalami – die twee grootste vervaardigers destyds was Michelin en Goodyear.

Een van vele legendariese wedrenne was die 1976 Grand Prix waarin Niki Lauda van Oostenryk die Britse renjaer James Hunt met net 1,3 sekondes geklop het. Die twee het van 1973 tot 1979 ’n bitter stryd gevoer. (Die rolprent Rush is later oor die twee renjaers se wedywering gemaak. Die vryskutmotorredakteur Ferdi de Vos meen dat hulle onderlinge mededinging oordryf is. Buite die baan was dié twee ouens glo goeie vriende.)

Ander wêreldbekende renjaers wat op Kyalami meegeding het, was die beroemde Fransman Alain Prost, Jackie “The Flying Scot” Stewart. En natuurlik Jody Scheckter, die enigste Suid-Afrikaanse renjaer wat ooit die Kyalami Grand Prix gewen het; dit was in 1975 in ’n Tyrrell 007 Ford Cosworth.

Deur die jare is al hoe minder wedrenne by Kyalami gehou weens sanksies teen apartheid. Dít en hoë eiendomkoste het gelei dat die boonste helfte van die baan in 1989 verkoop is. ’n Nuwe baan is laer af teen die heuwel gebou.

“Die oorspronklike baan was een van die vinnigstes ter wêreld. Nadat die baan herbou is, het van die mense gevoel dat Kyalami sy bekoring verloor het omdat dié baan korter was en die snelhede stadiger,” vertel de Vos.

Jackie Stewart agter die stuurwiel omring deur die res van die Tyrrell-span in die jare sewentig.

Nietemin, in 1991 is ’n nuwe kuipegebou opgerig. In 1992 en 1993 bied Kyalami nog twee Grand Prix-wedrenne aan.

Ongelukkig het belangstelling getaan en die eiendom is uiteindelik in 2014 in die mark gesit. Toby Venter, ’n bekende in die motorsportwêreld, koop die eiendom vir ’n aardige bedrag van R205 miljoen. (Venter is die eienaar van Porsche Suid-Afrika.)

Die baanuitleg is weer verander – die huidige renbaan is tans 4,5 km lank.

Ander veranderinge sluit in verhoogde veiligheid, ’n opgeknapte kuipegebou en toeskouersitplekke, asook opgeknapte uitstallings- en konferensiegeriewe.

“Toby het Kyalami gered en gekeer dat dit in ’n sakekompleks omskep word,” sê De Vos. “Oor 50 jaar sal dit sy nalatenskap wees.”

Hoewel internasionale owerhede graag weer F1-wedrenne op Kyalami wil hou, glo De Vos dat Venter ander planne het. “Hy wil weer die nege uur lange uithourit instel en dié rit terug op die internasionale kalender plaas.”

Dinge het nie altyd vlot verloop vir Kyalami nie, maar soos menige Suid-Afrikaanse legende het dié renbaan die toets deurstaan. Baie dankie aan Kim McCarthy van Gallo Images vir haar hulp met die verkryging van die foto’s.  

Bronne: kyalamigrandprixcircuit.com; sa-venues.com; racingcircuits.info

Toeskouers kyk hoe renmotors om ’n draai jaag in ‘n uithouren van nege uur.

ONS SOEK JOU KIEKIES.
Het jy ou swart-wit foto’s wat die storie van toeka se toere, gesinsvakansies of avonture vertel? Stuur dit gerus na kyra.tarr@media24.com