Bo-op die Swartbergpas het Johan ’n straal water bergaf sien stroom. Hy het stilgehou en tot by ’n fontein geklim van waar hy dié foto geneem het.

Johan du Toit van Amanzimtoti vertel:

In 1975 hou ons vir die eerste keer in die Kaap vakansie. Ons bly in Doringkloof, Centurion, en ons nuwe bure, wat Kapenaars is, inspireer ons om ’n lang toer te doen. Ons gaan onder meer verby Graaff-Reinet en al die pad tot op Stellenbosch (waar ons so baie wyn koop dat ons dit met die trein moet terugstuur na Pretoria), en uiteindelik terug huis toe via onder meer Mosselbaai en Kimberley.

Ons gaan draai ook op Oudtshoorn, waar ons al die gewone goed doen: Ons besoek die Kangogrotte en ’n volstruisplaas en eet volstruissteak.

Ons vat die pad na die bekende Swartbergpas en kom by ’n bord wat die weg na Gamkaskloof aandui. Ons ken glad nie die omgewing nie, en het ook nie ’n padkaart by ons nie. Watter kant toe moet ons gaan – Gamkaskloof toe of aanhou met die Swartbergpas?

As kinders het ons altyd dié truuk gebruik om te besluit waarheen ons volgende moet gaan: Jy spoeg in jou hand en slaan dan met jou vingers daarin. Die kant waarheen die spoeg spat, is die rigting wat jy inslaan. Ons doen dit, en die spoeg spat sowaar links... Gamkaskloof se kant toe. Oukei, hier gaan ons!

Ons kruie by die pas af, en my vrou, Helena, en haar suster, Ina, gil nou en dan van spanning oor die steiltes langs ons. Ons sien ou motorwrakke langs die pad. Terloops, het ek genoem ons ry dit in ’n 1975 Toyota Corona?

• Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #75 (September 2015) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien. 

Ons kruie by die pas af, en my vrou, Helena, en haar suster, Ina, gil nou en dan van spanning oor die steiltes langs ons. Ons sien ou motorwrakke langs die pad.

My vrou word eerste dors, en later ons almal. Later ry ons oor ’n stroompie. “Ek drink nie water uit ’n stroompie nie,” antwoord my vrou. ’n Entjie verder kry ons twee seuns langs die pad. Ons vra of daar dalk ’n kafee êrens is waar ons iets te drinke kan koop.

’n Mens het hope geduld – en senuwees van staal – nodig om die kronkelpad af na die Hel te ry.

“Nee, Oom, die enigste water is die stroom ’n entjie terug.”

Vroulief is onverbiddelik: “Ek sal dit nie drink nie.”

Verder ry ons verby ’n ou huisie waar ’n ou oom onder die boom aan sy pyp sit en suig dat die rook in wolke rondom hom staan. Ons hou stil: “Het Oom dalk vir ons water?”

“Natuurlik,” antwoord hy. “Daar’s heerlike koel water en ’n beker in die kombuis.”

Die huisie is baie skoon met ’n blinkgevryfde perskepitvloer. Op die tafels taan ’n emmer en blikbeker – eintlik ’n Ilovo-stroopblik met ’n tuisgemaakte handvatsel. Die water is vars en koud.

Op pad terug kan ek nie help om my vrou te vra nie: “Nou waar dink jy kom die water in die emmer vandaan?”

(*Helena het my intussen ontval.)


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #159 (Januarie 2018) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien. 
ONS SOEK JOU KIEKIES
Het jy ou swart-wit foto’s wat die storie van toeka se toere, gesinsvakansies of avonture vertel? Stuur dit gerus na van kyra.tarr@media24.com