Dié nuwe tegnologie vorm deel van Toyota se sogenaamde “nuwe wêreldwye argitektuur” of New Global Architecture (TNGA).

Die nuwe palwisselratkas is glo doeltreffender, veral teen ’n lae spoed, omdat die meganiese kragverliese minder is, ’n breër ratverhouding ontwikkel word en ratwisselwerking verbeter is.

Die nuwe sesganghandratkas is 7 kg ligter en 24 mm korter as die bestaande ratkas, wat dit een van die kleinste handrat- kaste ter wêreld maak en help om brandstofverbruik te verlaag.

Dié ratkas skakel danksy iMT (intelligente handratskakeling) seepglad oor omdat die enjinsnelheid aangepas word wanneer jy van ratte verwissel.

En die nuwe tweeliterenjin met “Dynamic Force”-hoëspoedontbrandingstegnologie en veranderlike tydklepreëling sorg vir hoër ontbrandingsdoeltreffendheid en dus minder skadelike uitlaatgasse.

Toyota het ook twee nuwe vierwielaandrywingstelsels ontwikkel om brandstofverbruik te verlaag en die beste moontlike hantering, stabiliteit en veldryverrigting te lewer.

Die stelsel stuur wringkrag onafhanklik na die linker- en regterwiele na gelang van padtoestande. Die stelsel gebruik ook ’n ontkoppelingstelsel wat koppelaars in die asse vir die voor- en agterwiele gebruik.

Dié koppelaars kan die agteras ontkoppel en al die enjinkrag na die voorwiele stuur wanneer die tweewielaandrywing gekies word. Dit verminder glo energieverlies en verbeter brandstofverbruik. Toyota beplan om binne die volgende vyf jaar TNGA-kragbronne in 80% van alle Toyota- en Lexus-voertuie te hê. 


Lees nog nuusbrokkies uit ons Mei-uitgawe hier.