In die slegte ou dae is ’n vrou met ’n skerp tong as ’n geitjie uitgeskel, maar daar is niks bitsigs of venynigs aan Bush Lapa se nuwe tweebedboswa nie. Dié kry eerder sy naam omdat die waentjie soos ’n gekko oral – ook oor klipperige terrein - heen kan skarrel. 

Kamp is harde werk, nè …?

Ek glo eers nie vir Llandi en Wessel toe hulle vir my sê jy kan hom in minder as twee minute opslaan nie. Bush Lapa het my genooi om die spiksplinternuwe Geitjie vir twee nagte uit te toets. Omdat my ryding tans nie ’n sleephaak het nie, het Bush Lapa hom sommer vir my tot by De Hollandsche Molen buite Franschhoek gesleep, geparkeer en opgeslaan ook. Ek moet baie vinnig my woorde sluk. Die horlosie staan op 1:58 toe Wessel en Llandi tevrede terugstap. Die Geitjie is kant en klaar opgeslaan. Kyk hier ... (ons het die 2 minute in ’n tydsverloopvideo van 15 sekondes vasgevang). 

Hierdie is die “Arctic Edition”, verduidelik Llandi (terloops, die Arctic Edition is in al die Bush Lapa-modelle beskikbaar). Dit beteken sy bakwerk is wit (en nie kakiekleurig nie), hy het ander bande en aan die binnekant is hy met duifgrys seil afgewerk (en nie sandkleurige seil nie). 

Die Geitjie is ’n ougat dingetjie. Hy trek die skaal op minder as 750 kg, wat beteken jy het nie ’n spesiale lisensie nodig om hom te sleep nie. Enige motorenjin groter as 1200 sal hom kan sleep, sê Wessel. Ek ry ’n Mini met ’n 1500-enjin, wat dus mans genoeg is om hom te sleep as ek ’n sleephaak laat installeer. 

Dis darem mooi, nè!
Wessel en Llandi slaan hom op in minder as twee minute
bush lapa
Die dak word uitgevou

Nadat ons gegroet het, vat dit my nog ’n paar sekondes om die kampstoele en beddegoed uit die Mini te haal, en die kombuisgoed in die kas uit te pak. En toe ... violà. Alles gereed. 

bush lapa
Die stofie en yskas
bush lapa
Die kombuisflap bied lekker werkspasie en pakplek
bush lapa
Die kragboksie sit agter die yskaslaai
bush lapa
Pakplek vir jou pot.
bush lapa
Die kragpunte sit net onder die werkspasie.
bush lapa
Stewige knippe wat kan sluit.
bush lapa
Geel goggaliggies

In die uittreklaai is ’n gasstofie en ’n ruim National Luna-yskas met aparte ys- en vrieskas. Daar is ook twee gewone laaie en ’n diep laai vir potte en panne.

Dis nie my eerste naweek in ’n Bush Lapa nie, en jy kry altyd die indruk dat dit ontwerp en gebou is deur mense wat self kamp. Alles is byderhand. Slaan jy die kombuisflap oop, is daar ’n werksoppervlak van vlekvrye staal en lekker pakplek. Haal jy die ketel uit, duik daar ’n kragpunt op langs die ketel. Dis verskriklik slim ontwerp. 

Al die eenhede in die kombuis het geel insekwerende liggies. Die knippe is lekker solied en kan apart gesluit word (al die knippe gebruik dieselfde sleutel). Jy hoef nie ’n ingenieur te wees om te sien die vakmanskap is besonders nie. Hierdie is nie ’n waentjie wat sommer op ’n grondpad in Botswana gaan stukkend skud nie.

bush lapa
Binne is dit die ene honeymoon
bush lapa
Dis 'n breë dubbelbled met flappe alkante wat afslaan

Binne is dit die ene honeymoon. Die dubbelbed loop van kant tot kant en is ruim, die matras is dik en gemaklik. Die flappe kan aan al die kante afgeslaan word sodat daar ’n lekker briesie deur die kajuit trek. Al die vensters het muskietnette voor wat goggas uit die kajuit hou, maar dit kan ook oopgerits en weggevou word sodat jy onbelemmerd uit jou groot, oop venster na Mabua se waterpan kan kyk. 

bush lapa
Pakplek vir hom en haar.

Onder by die voetenent is daar genoeg pakplek vir hom en haar. Jy gaan nie tasse en toksakke hoef saam te ry nie. Ek is dol oor die duifgrys seil.

Spasie vir die nasie

Bush Lapa het ander groter eenhede wat gesinne kan akkommodeer. Die Boskriek het byvoorbeeld slaapplek vir drie mense, die Miskruier vir vier, en die Ratels kom in modelle wat enigiets van drie tot ses mense kan huisves.

Die Geitjie is gemik op jong paartjies of afgetredenes wat lus het om Afrika in te vaar. Dis gebóú vir slegte paaie. Niks staan egter in jou pad om ’n tentjie vir die kinders saam te ry nie. Daarvoor is daar ’n groot kompartement onder die bed (wat jy via die yskaslaai bereik). 

bush lapa
Jy kán hom met 'n Mini sleep
bush lapa
Tagtigjariges kan daar opklim
bush lapa
Nou braai ons.
bush lapa
Die spaarwiel en gasbottel kom by die neus.
bush lapa
As julle in die hande wil kry.

Nou gaan ons braai!

Later die middag kom my ouers by my braai. Omdat die Geitjie net slaapplek het vir twee mense, bly my ouers in ’n chalet hier by De Hollandsche Molen. My pa is al gemaklik oor die 80, maar kan sonder probleme met die leertjie by die Geitjie op en af. Hy trek elke laai oop en klik tevrede sy tong.

Ons sit in die skadu van die Bush Wing en koffie drink terwyl ons wag dat sy potbrood en steaks van die kole kom. Ons het geen ander piekniektafel by ons nie en het ook niks nodig nie. Die Bush Lapa se kombuisflap is groot genoeg vir braaibroodjies maak, vleis sout en koffie skink.

bush lapa
Bobaas brood op die kole.

Ek lê die aand lekker op die dubbelbed – ek het aanvanklik die flappe afgeslaan gehou, maar die Maart-lug is al koelerig en ek moet die flappe toemaak voor middernag.

Is daar ’n lekkerder manier om wakker te word as in ’n stil kampterrein? Ek word vroegoggend uit ’n diep slaap wakker en drink my oggendkoffie op die kampstoel. My ma-hulle kom maak spek en eiers by my vir ontbyt.

bush lapa
De Hollandsche Molen.
bush lapa
Lekker piekniekplek vir dagbesoekers
bush lapa
Wasplek
bush lapa
Die badkamer.
bush lapa
Netjies en goed toegerus
bush lapa
Oupa en ouma sit op die stoep...

De Hollandsche Molen is gerieflik tussen die Paarl en Franschhoek geleë. Van hier af, is dit minder as 9 km tot in die hoofstraat van Franschhoek. Teen R160 per nag vir ’n staanplek vir twee mense, kan ek my nie indink dat daar ’n meer bekostigbare manier is om die talle wynkelders en besienswaardighede in Franschhoek en die Paarl te verken nie. 

bush lapa
Die swembaddens gebruik rivierwater.
bush lapa
Voeg net kinders by.

Die oord het twee swembaddens wat uit die rivier gevul word, en lekker klim en klouterplek vir die jong klomp. My pa sê as hy tien jaar jonger was, sou hy gewys het hoe ’n mens die trampolien gebruik.

bush lapa
Die proelokaal.
bush lapa
La Motte se kunsmuseum.
bush lapa
Tee in die tuin.

Ons eerste kuierplek vanoggend is die wynlandgoed La Motte. Volgens die GPS is dit 5,8 km vanaf De Hollandsche Molen. Ons geniet die wynlandgoed se pragtige kunsversameling. Die Ruperts het veral in Pierneef-skilderye belê en drink daarna tee in hul lowergroen tuin. Dis werklik ’n oase as jy in die omgewing is. 

bush lapa
Ons drentel in die hoofstraat.
bush lapa
Die koffie was héérlik.
bush lapa
Die Hugenote-monument.
bush lapa
Pragtige geboue.

Daarna drentel ons in Franschhoek se hoofstraat rond tot ons by die Hugenote-Monument in ons spore omdraai en terugstap. 

Ons eet egter nie op die dorp nie, want ons het nog vleis en meel en my pa dink hy kan op die vorige dag se brood verbeter. Laatmiddag sit ons dus presies waar ons die vorige dag gesit het. Ek lê in die Geitjie en lui-lui lees aan ’n slapbandboek terwyl my pa braai. Ek besef hoe idillies die oomblik is.

bush lapa
Ek lees my boek terwyl my pa braai

Die volgende oggend kom Llandi en Wessel stiptelik om 10:00 weer die Geitjie optel. Ek bly tjoepstil en sê nie vir hulle dat ek die horlosie dophou nie. Binne tien minute het hulle die Bush Wing afgeslaan en opgevou, die dak teruggevou, die stutpale losgekroef en weggepak, die Geitjie gehaak ... én gegroet! 

Ek dink ek sien kans om só vakansie te hou.

bush lapa
Die tent word afgeslaan en die dak teruggevou.
bush lapa
Wessel skroef die stutpale los. Tjoeftjaf alles af.
Die hoe, wat en hoeveel

Die Geitjie se prys verskil na gelang van die bykomstighede, maar pryse begin by R200 000. Vir die volledige “spec-lys”, klik hier.

Bush Lapa verhuur ook eenhede. Bel 021 870 1277 om uit te vind.

De Hollandsche Molen

’n Staanplek vir twee mense kos R160 per nag. Die terrein het net oor die 60 staanplekke, wat elkeen ’n kragpunt en ’n braaiplek het. Die badkamers is netjies en gerieflik. ’n Chalet met twee slaapkamers kos R1800 per nag. 

Bespreek hier

As jy bietjie na Bush Lapa se waens wil gaan loer, klik hier.