My seun Francois van der Merwe het dié foto op sy plaas 8 km buite Calvinia geneem. Daar het ’n klein waterlopie in ’n skalielaagte gevorm nadat 3 mm reën geval het. Dit is die eerste keer dat ek ’n skilpad sien water drink.

Watter soort skilpad is dit en wat is die normale drinkgewoontes van skilpaaie? Hulle kan tog nie by die skaapdrinkbakke in die dorre Karoo bykom om hulle dors te les nie. En daar is oor kilometers geen water of sappige groen plante nie.

Die dierekenner L.D. VAN ESSEN antwoord: Dis ’n ploegskaarskilpad (Chersina angulata). Die meeste landskilpaaie sal water drink wanneer dit beskikbaar is en hulle dit kan bykom, maar verkry ook baie van hulle vloeistof uit die plantmateriaal wat hulle vreet. Hulle liggaam is wonderlik aangepas om die verlies van vog te beperk.

Hulle is ook minder aktief in die warmste deel van die dag. Dié skilpad kan ook in vogtige toestande – soos wanneer dit dou – sy liggaam so draai dat waterdruppels rondom die kop versamel wat dan deur die neus opgesuig word.

Hierdie liggaamsvog is vir skilpaaie 'n kosbare hulpbron. Mense moet liefs nie skilpaaie in die veld optel in die droë seisoen nie. Hulle urineer en mis as hulle bedreig voel en verloor sodoende kosbare vog.