Deel van ons DNS is om eerlik te skryf oor bekostigbare bestemmings, om as padvinders op te tree sodat lesers met gemoedsrus ons land en vasteland se mooi plekke kan verken. Maar ons is veel meer as net ’n gids of bestemmingstydskrif – ons vertel ook die stories van die unieke mense wat ons op ons reise raakloop. 

In die tye van die nuwe koronavirus (Covid-19) waar mense die verantwoordelike ding doen deur by die huis te bly en hulle reise tot die noodsaaklike te beperk, bied Weg steeds leunstoel-ontvlugting. Neem verbeeldingsreise saam met ons, lees stories oor plekke waarvoor jy lief is, en plekke waaroor jy droom om eendag te besoek.  

Al ons tydskrifte en gidse kan digitaal afgelaai word by www.zinio.com en www.magzter.com – ons splinternuwe April-uitgawe is nou te koop. Dit is ook beskikbaar op Pressreader.

Intekenare van Netwerk24 kan Weg onder e-publikasies vind om vandeesmaand se uitgawe aanlyn te lees. Die nuwe uitgawe se artikels is ook beskikbaar op Weg se webwerf onder 'Tydskrif'.

Beplan solank daai vakansie wat welverdiend gaan wees nadat die wêreldstorm homself uitgewoed het. Pas jouself intussen op, dink aan ander mense en wees gaaf met hulle, en was jou hande! 

Groete

Pierre

Pierre Steyn
Pierre Steyn

Kan ek tydskrifte in die winkels koop?

Ons bevestig dat winkels wel toegelaat word om tydskrifte soos Weg en Weg Ry & Sleep te verkoop, en ’n mens kan die winkelassistente vra oor hul beskikbaarheid. Indien jy nie ’n tydskrif kan vind nie, kan jy ’n WhatsApp boodskap stuur aan 087 353 1334 met die naam van die winkel sodat ons met hulle kan gesels om die saak reg te stel. 

Ons winkelvennote is onder groot druk so wees asseblief geduldig met hulle – party winkels het dalk nog nie die boodskap gekry dat hulle wel ons tydskrifte mag verkoop nie.