Skets: Fred Mouton

Vuur. Wat ’n wonderwerk. En hier is dit in my palm, in die gerusstellende Lion-boksie, wat ruik na karton, swael en broeksak. Ek skud die boksie: Dit klink na sowat vyftien vuurhoutjies. Hoe leër jou boksie raak, hoe meer musikaal raak dit. Vol skud die oorblywende houtjies nog nie genoeg rond nie. Byna leeg ratel soos ’n kalbassie.

Ek haal een vuurhoutjie uit, skuif die boksie weer toe, skraap hom aan die brand. Vir ’n oomblik flits dit in my bakhand, en ek lig die vlammetjie soos ’n kosbare voëltjie op ’n tak na sy nes: Die frommel fynhoutjies en grasbolle waarmee ek my vuur gepak het.

Hierdie is my gunstelingsoort kampvuur. Ek bou hom op die grond, waar ek ’n kol skoongeskraap het met my skoen, of ’n graaf, as ek onthou het om dit in te pak. Ek is dus op my knieë as ek hom aansteek, en ek kyk of hy goed vat, die vuur wat die fynste grassies laat opkrul soos visstokkies waaraan iets groots gebyt het. Hulle gloei eers soos die wolfram in ’n elektriese gloeilamp, maar val dan uitmekaar, spokies van as. Ek blaas ’n bietjie suurstof in die gorrel van die vuur, en skielik span die vlammetjies saam en vlek oop in ’n handgroot seil wat nou deur die fyn doringtakkies knetter.

Daar is niks soos ’n veldvuur nie, veral die eerste een van jou vakansie wanneer jy nog na stad ruik. Ek staan so na aan die vuur as wat ek kan sodat ek die witblou soetdoringwalms soos wierook kan inasem.

Ek tel ’n hand vol dikker takkies op en sit dit bo-op, en sodra dié deur die vuur – wat nou ruis soos ’n meteoriet wat deur die atmosfeer brand – gevat word, ’n paar stompies, of stukke boombas wat ek van dikker stompe afgetrek het.

Daar is niks soos ’n veldvuur nie, veral die eerste een van jou vakansie wanneer jy nog na stad ruik. Ek staan so na aan die vuur as wat ek kan sodat ek die witblou soetdoringwalms soos wierook kan inasem. Hier, by die vuur waar die Karoo (op ’n ander dag is dit dalk mopaniehout en die Bosveld, of, in die hemel, kameeldoring en die Kalahari) rondom my pers begin word soos die nag uit die ooste opstaan, kan ek weer mens word. Ek kan met die natuur gesels in elke rigting, vanaand met my oor teen die aarde slaap, ’n dier.

’n Alleenvuur is ’n mooi ding, maar dis nie die enigste soort kampvuur nie. Jy kry byvoorbeeld die staanvuur. Dis nie ’n ding wat almal ken nie, want jy kan nie ’n staanvuur op jou meenthuisbalkon maak nie (iemand sal die brandweer bel).

’n Staanvuur is aansienlik groter as ’n alleenvuur en jy bou hom met fris stompe, en vir meer mense – vyf, dalk sewe. Die vlamme moet kophoogte reik wanneer julle staan.

’n Staanvuur is ’n impulsiewe ding. Jy maak een as jy vinnig die effek van vuur aan jou vel wil voel.

’n Staanvuur is ’n impulsiewe ding. Jy maak een as jy vinnig die effek van vuur aan jou vel wil voel. Jy gee nie om om hom met ’n steentjie Blitz aan die gang te skop nie, selfs petrol is oukei. Jy wil dadelik die hitte deur jou koue broekspyp voel, hy moet opslaan teen jou wange soos wanneer jy ’n groot sluk whisky vat.

Die kookvuur is klein; jy mors nie hout nie. Hierdie vuur kan jy soggens maak (ervare kookvuurmakers kan dit in hulle slaap doen), of teen die middaguur in die skaduwee van ’n padboom (jy het net takkies nodig: Wors is gaar binne minute), of wanneer jy aankom by jou kampplek en solank water aan die kook wil kry vir als van hande was tot koffie of pasta maak.

Só ’n kookvuur moet aan die gang gehou word; hy hoef nie te brul nie. Die ding wat bo-op hom kom, moet prut, nie vuur spoeg nie.

’n Braaivleisvuur is spesifiek. Jy steek hom aan op ’n vasgestelde tyd en plek. Dis Sondagoggend elfuur in jou agterplaas. Of Woensdag ná werk in jou ingeboude braaiplek. Hoewel jy om ’n braaivleisvuur kan kuier, is dit nie verpligtend nie. Dis prakties van aard: Jy maak dit om vleis gaar te maak wat deel vorm van ’n groter maaltyd. Soms kom ander goed by, soos ’n voorarmlengte knoffelbrood, vier groenmielies, en ’n paar aartappels in foelie in die skadu van die rooster, al om die rand van jou kolebed.

Jy moet soms met die tweederangse braaitang (die een met ’n asbek, nie die skone waarmee jy die skaaptjops aan die wange optel nie) die bakstene wat jou rooster bo die kolebed hou, nog kant toe krap sodat jy plek kan maak vir die aartappels, uie of patats.

(’n Verwante vuur is die klubhuisvuur; dis soos ’n braaivleisvuur, maar wyer – so wyd soos die rolbal-, tennis- of rugbyklub se siersteenbraaiplek. Dié vuur moet fyn bestuur word: Daar’s baie om te braai.)

‘ ’n Verwante vuur is die klubhuisvuur; dis soos ’n braaivleisvuur, maar wyer – so wyd soos die rolbal-, tennis- of rugbyklub se siersteenbraaiplek. Dié vuur moet fyn bestuur word: daar’s baie om te braai.’

’n Kuiervuur is vir baie mense – twintig is welkom. Julle stoele staan rondom gerangskik nog voordat die afgevaardigde aansteker hom lont gee. Julle wag dit in, met gevoude arms soos voor ’n rugbywedstryd en jy reeds weet wie jou span is en wat jy van hulle verwag. ’n Kuiervuur begin soos die meeste van bogenoemde vure, maar vir die eerste paar uur – wanneer die kinders marshmallows braai, of iemand ’n ketel kook vir tee, of die vleis gebraai word – lê daar eenkant, sowat vyf meter weg, ’n groot stomp. Die stomp is drie meter lank en so dik soos ’n hoogspringer se bobeen. Of daar is drie van hulle, maar elkeen is net een meter lank, en so dik soos jóú bobeen.

Wanneer die kinders gaan slaap het, en almal klaar geëet het, en die skottelgoed gewas is, en die nag se kouete nader sit, dan staan iemand op uit ’n kampstoel en sit daai dik stomp op die vuur. Dit maak vonkies wanneer dit val. Dít is die begin van die kuiervuur. Jy hoef nie die hele stomp te brand nie. Omdat die res van die vuur nou klein is, skuif jy hom stadig, entjie-entjie, soos ’n kosbare sigaar wat jy nie te vinnig klaar wil rook nie.

Die kuiervuur is nie so warm nie; jy kan nader sit. Die kuiervuur is nie vir almal nie. As julle twintig mense was, het die helfte al gaan slaap; en die kringetjie is nou tien. Oor ’n uur is dit vyf. Uiteindelik is dit net jy en een ander siel. Julle sit eers met ’n arm wat hang oor die rugkant van die stoel, ontspanne maar attent, asof jy kyk na jou dobbertjie en wag vir ’n vis om te byt. Later sit julle vooroor, hande ineengevou, gemesmeraais.

Teen hierdie tyd kyk jy al só lank en só diep in die vuur dat jou oë begin droog raak. ’n Fyn lagie as lê oor jou vel, jou vingers vetterig van jou tjop met die hand vat en skoonknaag, tot in jou mondhoeke.

Julle praat minder, want dis onnodig. Iemand snork in ’n tent, ’n vlermuis vlieg laag oor die kamplig. Jy staan op en skakel dié lig af, vir die motte. Skielik is dit byna pikdonker, en om die een of ander rede ook stiller.

Die vuur is amper dood, want julle het lanklaas die stomp geskuif, en sy afgebrande ent smeul nou net. Die kole glinster soos die sakkende son op die water. Soos ’n stad se liggies in jou truspieël. Soos een of ander iets waarvoor jy nie regtig woorde het nie.

“Sal ons gaan slaap?” stel jou vriend dalk voor.

“Ja, wat,” antwoord jy terwyl jy die stomp van die vuur af sleep en sand teen sy gloeiende kant skop sodat hy veilig sal wees in dié windstil nag waarom die woestyn lê – ’n andersins menslose paradys.