Maar mooi ofte nie: Mense is uiters versigtig vir hulle. Sowat 90% van slangbyte in Suid-Afrika is deur Mosambiekse spoegkobras, pofadders, gewone nagadders en sypikslange, maar die dodelike byte is dié van Kaapse kobras en swartmambas: sowat 10-12 per jaar tussen dié twee trawante.

Nie almal in die dierekoninkryk is egter vreesbevange vir die Kaapse kobra nie. Bleeksingvalke hou daarvan om die slange te volg. En nee, dis nie omdat die valk dink die kobra is mooi nie; dis om selfsugtige redes...

Die slange seil meestal grondlangs op soek na prooi soos knaagdiere, akkedisse, paddas en selfs ander slange. Ek het al gesien hoe Kaapse kobras in die Sentraal-Kalahari metodies van een knaagdiergat na ’n volgende beweeg op soek na iets te ase.

Bleeksingvalke hou daarvan om die slange te volg. En nee, dis nie omdat die valk dink die kobra is mooi nie; dis om selfsugtige redes...

Party van die knaagdiere is só bang vir slange, sodra hulle agterkom een is net effe naby aan hulle gate, laat spaander hulle veld-in. En dís waarvoor die bleeksingvalk wag. Ja, hy eet ook slange, maar vir hom is dit baie meer voordelig om rond te hang en enige van die knaagdiere wat deur die kobra uit hulle gate gejaag word op te pik – daarsy, middagete!

Kaapse kobras beweeg wel soms tot in kleiner bome, en daar is mense wat al so gelukkig was om te sien hoe een ’n versamelvoëlnes in die Kgalagadi plunder op soek na kuikens en eiers.

Die slang kom in die droër suidwestelike streke van Suider-Afrika voor en hou in ’n verskeidenheid van habitats: van fynbos tot droë grasveld en selfs die verlate Namibwoestyn. As jy op een afkom, stap net stadig agteruit... en moenie bekommerd wees nie, ’n bleeksingvalk sal jou nie agterna sit nie.