Boslaksmanne is my gunsteling-voëlfamilie.

Buiten die meer sigbare bokmakierie is boslaksmanne goeie kamoefleerders en ’n mens sien hulle selde goed, al is hulle van die treffendste voëls. Dis dikwels hulle roepstem wat sê hulle is naby. Die geheimsinnige roep van die spookvoël, die grootste boslaksman in die streek, is ’n algemene geluid in die bosveld – ’n mens hoor gereeld die “whoop”-geluid (amper soos wanner ’n mens in ’n glasbottel blaas) terwyl die voël self jou frustreer en onsigbaar bly.

Buiten die meer sigbare bokmakierie is boslaksmanne goeie kamoefleerders en ’n mens sien hulle selde goed, al is hulle van die treffendste voëls.

Maar as ’n mens wel een te siene kry, sal nader inspeksie wys spookvoëls het ’n goed ontwikkelde haakvormige snawel. Dit behoort jou ’n idee te gee van hulle dieet en leefstyl. Hulle is nie vol fiemies nie: Ek het al gesien hoe spookvoëls enigiets van insekte tot ’n giftige voëlslang of (soos op die foto) ’n flapnekverkleurmannetjie eet.

Op die dag toe ek dié foto geneem het, het twee spookvoëls die verkleurmannetjie gevang en reggemaak om dit in die blaredak te gaan eet. Maar die verkleurmannetjie was te groot om te hanteer en het ’n paar keer grond toe geval – sleg vir die voëls, maar uitstekend vir my wat probeer het om hierdie rare verskynsel af te neem.

Spookvoëls is ook berug daarvoor dat hulle ander voëlneste plunder, en in die broeiseisoen word hulle dikwels deur ander voëls aangeval om hulle te probeer wegdryf.

Omdat hulle so goed kan sluip, kan hulle verskeie neste opspoor, en as hulle dit eers gekry het, word niks agtergelaat nie. Die kuikens én die eiers word geëet. Dit klink dalk verskriklik, maar hulle speel ’n belangrike ekologiese rol.

Habitatveranderinge het veroorsaak dat daar heelwat minder nesroofdiere soos muishonde, slange en ander roofvoëls is wat ’n mens gewoonlik in ’n natuurstelsel kry. Spookvoëls kom steeds in dié habitats voor en hulle help om voëlgetalle te beheer en balans in die natuur te handhaaf.