Watwo, diere werk hárd om te oorleef. Dit verg energie om genoeg te kry om te vreet en om nié gevreet te word nie. Die gemiddelde herbivoor bring die grootste deel van die dag deur (en gebruik baie energie) om genoeg kos te kry om hulle te onderhou. Die plante wat hulle vreet, is dikwels laag in voedingstowwe. ’n Olifant moet byvoorbeeld sowat 350 kg gras, blare, bas en takkies per dag vreet!

Roofdiere is vir korter tye op ’n slag aktief, maar die jagproses verg hope energie. Studies wys dat jagluiperds en leeus, byvoorbeeld, vir lang tye rondlê en niks doen (byna soos jou kat by die huis!) – leeus slaap tot 20 uur per dag – om energie te spaar vir jagtogte. Hulle kan net vir ’n kort rukkie só vinnig hardloop voordat hulle weer moet rus.

Roofdiere is vir korter tye op ’n slag aktief, maar die jagproses verg hope energie.

Dis basies hoekom groot roofdiere en -voëls nie veel aandag gee aan te klein prooidiere nie. Arende sal nie noodwendig probeer om vinkies te vang nie. ’n Vink en ’n tarentaal verg ewe veel energie om te vang. Die verskil lê in die beloning: Die tarentaal is ’n behoorlike maaltyd terwyl die vink net ’n voorgereggie is. Vir ’n klein valk is ’n vink wel die moeite werd.

Daarteenoor moet prooidiere ook hard werk om onbespeurbaar te bly en ander kere moet hulle laat spaander om van die gevaar af weg te kom.

’n Skilpad se harde dop is ’n goeie voorbeeld van beskerming. Die patrone kamoefleer die skilpad in sy omgewing. En die dop is bykans ondeurdringbaar. ’n Skilpaddop is beenagtig – dis basies ’n aangepaste ribbekas met ’n beenplaat bo-oor. Dit beskerm ook vir Skillie teen die elemente soos die bloedige Bosveldse son.

Maar doen dié wapenrusting altyd die ding?

Ek het onlangs gesien hoe vang ’n jong gevlekte hiëna ’n jong bergskilpad in die Noordelike Tuli-wildreservaat in Botswana. Dit het eers gelyk asof die skilpad se doppie geklink is, maar hoe langer ek die petalje dopgehou het, hoe meer kon ek sien dis nie die geval nie.

Die hiëna het beslis die dop beskadig, maar dit het gelyk asof dit net aan die rande is. Die kern van die skilpad se lyf was steeds ongedeerd – en dit teen die sterkste kake in die natuur! Die skilpad het bly lewe en hiëna se kind moes die aftog blaas. Die hiëna het báie energie vermors sonder enige beloning. Ek twyfel of hy weer ’n skilpad sal probeer vreet. Hy het sekerlik dié les geleer: As iets te goed lyk om waar te wees, is dit waarskynlik!