By die meeste voëlspesies is dit óf die broeipaar óf die wyfie wat die eier uitbroei en die kuiken grootmaak.

Dit gebeur selde dat die wyfie niks met ouerskap te doen het nie. Die meeste voëls is veelwywig of eenwywig. ’n Veelwywige voël soos ’n wewer sal met meer as een wyfie paar. Eenwywige voëls soos arende het net een lewensmaat. 

Daar is egter spesies waar die wyfie se enigste rol is om die eier te lê. Daarna is die mannetjie vir alle praktiese doeleindes ’n enkelouer. Dit staan bekend as veelmannery. Kyk na die kleurskema van die mannetjie en die wyfie om vas te stel of die spesie veelmannig is. Normaalweg is dit die mannetjies wat met uitspattige vere spog, maar in die geval van veelmannery is dit die wyfies wat opgetof is. 

Ek het onlangs gekyk hoe twee goudsnippe saam kos soek. Ek het eers gedink dis ’n broeipaar, maar toe onthou ek goudsnippe is veelmannig. Ek het na twee mannetjies gekyk: pa en seun. Die mannetjie het die kuiken uitgebroei en alleen grootgemaak. Die wyfie het seker eiers gelê vir tot vier ander mannetjies en daarna verdwyn.