Gidse regoor Afrika gebruik neushoringvoëls as ’n maklike wegspringpunt om voëllewe aan hulle gaste te verduidelik en noem hulle “vlieënde piesangs” of “vliëende rissies” (met verwysing na die voëls se snawels).

Neushoringvoëls kom nie net in Afrika voor nie (daar is ook baie in die woude van Asië), maar is sekerlik een van die mees herkenbare voëls wat ’n mens in die Afrikabos kry. Die algemeenste een is die opvallende geelbekneushoringvoël, gevolg deur die meer delikate rooibekneushoringvoël (op die foto bo).

Die fassinerendste deel van neushoringvoëls se gedrag is hulle nesmaakgewoontes. Hulle maak nes in gate, en wanneer die broeiseisoen rondom Oktober aanbreek, maak die wyfie haar met mis in ’n gat in ’n boom toe. Sy los net ’n smal gaping waardeur die mannetjie haar kan voer. Terwyl sy hier is, verloor sy al haar slag- en stertvere.

Die algemeenste een is die opvallende geelbekneushoringvoël, gevolg deur die meer delikate rooibekneushoringvoël

Nie net is dit dan vir haar makliker om binne die klein opening te beweeg nie, maar die vere maak die nes ook lekker snoesig. Die nadeel hiervan is dat sy dan heeltemal weerloos is. Sy kan dalk uit die gat kom, maar sal nie kan vlieg nie en is in hierdie broeityd afhanklik van die mannetjie vir kos.

Wanneer die kuikens uitbroei, moet die mannetjie ook vir hulle sorg – in party gevalle is daar tot ses kuikens! Die mannetjie speel dus ’n baie belangrike rol in die broeisiklus.

Die ruimte binne die opening word natuurlik al minder soos die kuikens groter word, en wanneer die plek te min word, sal die wyfie die “deur” van die opening oopbreek en dit verlaat. Die wyfie kan vir tot 45 dae só afgesonder wees.

Dit is interessant om te sien die oudste kuiken begin dadelik ná die ma se vertrek om weer die opening toe te maak. As dit ’n manlike kuiken is, is dit die enigste keer in sy lewe dat hy ’n nesopening só sal “toepleister”. Dié proses word herhaal elke keer as ’n kuiken te groot word vir die nes – totdat die laaste kuiken die nes verlaat het.