Hulle gespikkelde grys lywe lyk nes ’n takkie, wat beteken hulle is uitstekende kamoefleerders. Wanneer hulle in hulle voorkeurhabitat is – bome en lae struike – is dit byna onmoontlik om hulle te sien. ’n Takslang kom egter wel soms grond toe wanneer hy van een boom na ’n ander beweeg of jag – en dis waar ek hulle meestal raaksien.

Is hulle gevaarlik vir mense? Hulle gif is. Dis hemotoksies, wat bloedstolling beïnvloed. Daar is nie ’n teengif nie, wat beteken iemand wat gebyt word, moet dalk ’n bloedoortapping kry. Maar wees gerus: Die slange is nie moeilikheidmakers nie; hulle is skugter en bedaard, en byte is uiters seldsaam – dit gebeur net wanneer hulle ernstig bedreig voel. Ek het al stories gehoor van boere wat in die ou dae hierdie slange aan hulle kinders gegee het om mee te speel!

As ’n takslang in ’n boom is, beweeg hy redelik stadig tussen die takke, maar hy sal in kort sarsies vinnig vorentoe beweeg as hy ’n prooi sien – takslange vang meestal verkleurmannetjies, paddas (veral die Bosveldreënpadda), ander slange en akkedisse. Hulle sal nie sommer voëls vang nie, maar sal nie nee sê vir ’n maklike ete van ’n voëleier of kuiken nie.

Takslange is agtertandslange, wat beteken hulle giftande sit verder terug in die bek as ander slange s’n. Party mense glo verkeerdelik dit beteken hulle byt kan net gevaarlik wees as hulle iets soos ’n vinger ordentlik beetkry. Maar hulle tande sit min of meer onder die oog, en hulle kan enige plek byt.

Bykomende bron: Slange & slangbyte in Suider-Afrika deur Johan Marais